Inskrywings vir die 10de kykNET Silwerskermfees nóú oop

Die kykNET Silwerskermfees vier vanjaar ’n dekade van uitsonderlike rolprente en talent in die plaaslike vermaakbedryf.

Sedert die begin van die kykNET Silwerskermfees is sowat 126 kortprente die afgelope nege jaar vervaardig met meer as 80 vollengte rolprente wat op die fees gedebuteer het.

Vooraanstaande rolprentmakers soos Christiaan Olwagen (Kanarie, Poppie Nongena), Nosipho Duma (Nommer 37), René en Corné van Rooyen (Vaselinetjie, Alles Malan, Toorbos), Bennie Fourie (Vuil wasgoed, Hotel) en Amy Jeptha (Soldaat, Ellen: My naam is Ellen Pakkies) het die eerste keer die plaaslike rolprentbedryf betree as wenners van die gewilde Silwerskermfees-kortprentprojek.

Inskrywings vir die kortprentkompetisie, bestaande werke en draaiboeksoek is nóú amptelik oop.

Waarvoor jy kan inskryf:

Nuutgeskepte kortflieks

Vanjaar is die Silwerskermfees-kortfliekprojek ietwat anders as in vorige jare. Vanjaar is die beoordelaars op soek na oorspronklike konsepte van talentvolle rolprentmakers, met geen voorkeur aan genre nie, en nuwe prente tussen 3 en 30 minute lank.

Die rolprentmakers met die beste konsepte word dan gekies om deel te neem aan ’n skryfskool.

Die gekose rolprentmakers sal dan met hulp van mentors uit die plaaslike bedryf aan ’n finale draaiboek werk voordat die beste draaiboeke as kortflieks vervaardig sal word. Dié nuutgeskepte kortflieks sal dan tydens die kykNET Silwerskermfees later vanjaar debuteer en in aanmerking kom vir verskeie pryse.

Indien rolprentmakers al voorheen as ’n skrywer of regisseur ingeskryf het, kan hulle nie in dieselfde hoedanigheid weer inskryf nie, maar wel as ’n vervaardiger of regisseur.

Voornemende rolprentmakers het tot en met 11 Maart 2020 geleentheid om op www.silwerskerm.tv te registreer en voorstelle tussen 250 en 300 woorde elektronies in te handig.

Bestaande werke

Om ’n dekade van die kykNET Silwerskermfees te vier is daar weer geleentheid vir vervaardigers en rolprentmakers om enige bestaande werke vir die fees in te skryf. Dit sluit enige vollengte, kortprente en dokumentêre rolprente in.

Hierdie bestaande werke mag al voorheen internasionaal vertoon gewees het, maar moet plaaslik debuteer op die Silwerskermfees.

Vanjaar mag rolprentmakers ook kies om hul rolprente in te skryf vir ʼn kompetisie as dit aan alle bepalings en voorwaardes voldoen en in die proses ʼn allemintige prysgeld van R100 000 wen. Sou jou bestaande werk wen, sal jy ook die geleentheid kry om jou werk te lisensieer.

Alle vorige deelnemers van die Silwerskermfees mag ook bestaande werke indien wat nog nie op die fees vertoon is nie.

Inskrywings vir alle bestaande werke sluit 30 April 2020.

Draaiboeke

Daarby bied kykNET in samewerking met M-Net ’n geleentheid vir voornemende skrywers om ’n oorspronklike draaiboek vir ’n vollengte rolprent vir die draaiboekkompetisie in te skryf.

Draaiboeke mag in enige genre wees en moet in die regte draaiboekformaat ingehandig word. Die wenner sal ’n kontantbedrag van R50 000 wen.

Inskrywings vir die draaiboekafdeling is reeds oop en kan tot 26 Junie 2020 gelewer word. Inskrywings is gratis.

Die tiende kykNET Silwerskermfees vind vanjaar van 24 tot 30 Augustus in Kaapstad plaas. Vir meer inligting besoek www.silwerskerm.tv.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.