Ivan en Donnalee se ‘Stroomop’: Hier is die akteurs

Die Stroomop-akteurs (Foto: Suna Robberts)

Die akteurspaar Ivan Botha en Donnalee Roberts se jongste fliek, Stroomop, gaan ʼn sterbelaaide samewerkingsprojek wees wat akteurs soos Armand Aucamp en Simoné Nortmann insluit.

Die paartjie, wat einde verlede jaar hul verlowing amptelik bekend gemaak het, het vroeër gesê dié fliek word op 9 Augustus – spesifiek vir Vrouedag – uitgereik.

Die akteurs sal egter nie soos in hul vorige flieks, Pad na jou hart en Vir altyd, teenoor mekaar speel nie. Roberts sal ʼn hoofrol vertolk, terwyl Botha sy debuut as regisseur gaan maak.

Die paartjie het voorheen gesê dié fliek vertel die storie presies soos dit in die titel verduidelik word: Roberts se karakter en dié van vier ander vroue, wat almal in hul eie lewe besig is om te verdrink en in die onstuimige waters van die lewe rondgemaal te word, beloof om kykers op ’n opwindende avontuur te neem.

“Hulle gaan saam moet veg teen trane, woede, vrese, pyn en om oorlewing tydens ’n “river rafting experience” op die Oranjerivier. Hierdie situasies sorg darem ook vir heerlike uit-jou-maag-uit-lag-oomblikke waarin ʼn mens besef dat jy partymaal net jouself en jou omstandighede moet aanvaar en die beste daarvan maak. Soms moet jy stroomop swem om te ontdek dat jy meer as genoeg is en oor alles beskik om alles te oorkom wat die rivier van die lewe na jou kant toe mag spoel,” het Roberts voorheen aan Maroela Media vertel.

Dié akteurs is in die fliek te sien:

Lana – vertolk deur Donnalee Roberts

Donnalee Roberts as Lana (Foto: Suna Robberts)

Lana is ʼn chirurg wat haar hele lewe aan haar werk wy. ʼn Traumatiese ervaring uit haar kinderjare bly by haar spook en haar werk is ʼn soort toevlug. In elke mens ontmoet Lana net die pasiënt en nie die mens agter die siekte nie. Sy het verleer om te lééf, lief te hê en mense in haar lewe toe te laat.

Donnalee se lewensraad aan Lana: “Partymaal moet mens net ’n kans waag en partykeer moet jy iemand toelaat om naby aan jou te kom om ware vriendskap te ontdek.”

Vivian – vertolk deur Simoné Nortmann

Simoné Nortmann as Vivian (Foto: Suna Robberts)

Vivian is ʼn data-analis wat byna elke stukkie skokkende statistiek oor ons land ken – iets wat haar geneigdheid tot depressie net vererger. Haar lewensvreugde het sy reeds as kind verloor en sy vind die lewe saai. Sy maak stories op oor eksotiese vakansies en avonture. ʼn Baie diep seer ná ʼn liefdesteleurstelling veroorsaak dat sy haarself in iemand anders probeer verander. Sy soek aanvaarding, maar in die proses verloor sy haarself heeltemal.

Simoné se lewensraad aan Vivian: “My raad aan Vivian is dat sy nie die lewe so ernstig moet opneem nie en dat daar êrens vir haar ’n plekkie onder die son is. Sy is nie alleen nie en sy hóórt.”

Diona – vertolk deur Ilse Klink

Ilse Klink as Diona (Foto: Suna Robberts)

In haar hart is Diona heel eerste ʼn ma – sterk, nie bang vir uitdagings nie, en bowenal beskermend. Dis hierdie eienskappe wat haar gedryf het om ʼn suksesvolle prokureur te word en die leer van die sakewêreld te bestyg. Ongelukkig was dit ten koste van haar gesin, sonder dat sy dit besef. Ná die dood van haar man moet Diona probeer om die verhouding tussen haar en haar dogter te herstel.

Ilse se lewensraad aan Diona: “Let go. Dit sal oukei wees.”

Guy – vertolk deur Armand Aucamp

Armand Aucamp as Guy (Foto: Suna Robberts)

Guy is die riviergids wat die vyf stroomop vroue vir “avontuurterapie” neem. Midde-in sy pogings om die vroue te help om hulself te herontdek, aanvaar en genees, word hy self uitgedaag met die dinamiese persoonlikhede op die roeiboot. Toe die boot omslaan, verdwyn Guy onder die water en moet hy om sy lewe veg. Hy voel magteloos en kan net hoop die vroue sal oorleef.

Armand meen dat hy eerder by Guy ʼn stukkie lewensraad sal aanvaar: “Ek wil by hom leer om innerlike rustigheid te bemeester.”

Nixie – vertolk deur Carla Classen

Carla Classen as Nixie (Foto: Suna Robberts)

Nixie is ʼn millenniër. Sy is kieskeurig oor wie sy in haar lewe toelaat en deel eerder aanlyn oor hoe sy voel as om van aangesig tot aangesig met iemand te praat. Haar pa was die enigste een wat haar werklik verstaan het. Maar ná sy dood voel Nixie alleen. Sy trek elke dag ʼn bietjie meer terug in haar dop, ongemaklik met die verhouding wat nou skielik met haar vroeër afwesige ma gevorm moet word.

Carla se lewensraad aan Nixie: “Gee jou ouers ʼn blaaskans. Hoe ouer jy word, hoe meer besef jy jou ouers is net mense wat foute kan maak. Die wonderlike ding van ouerskap is om te besef dat jy baie soos jou ouers is.”

Adrie – vertolk deur Chanelle de Jager

Chanelle de Jager as Adrie (Foto: Suna Robberts)

Adrie het die wêreld se potensiaal, maar sy verdrink in die stryd van ma-wees vir drie seuntjies, vier as sy haar man bytel. Sy skeep haarself af terwyl sy elke dag se take gedoen probeer kry. Iewers langs die pad het sy haar innerlike krag en vreugde verruil vir besigwees. Adrie sien nie haar “mooi” raak nie en juis daarom ook nie hoe mooi haar man haar vind nie.

Chanelle se lewensraad aan Adrie: “Adrie, vroumens, jy doen fine. Elke mamma daarbuite het al ʼn oomblik gehad wat hulle dink hulle is nie goed genoeg nie. Elke dag is ʼn struggle, maar jy doen wat ook al die beste is en jy doen dit reg.”

Die akteurs het hul jongste fliek aangepak in samewerking met The Writers Block (Sean Daniels en Quentin Krog). Stroomop word ook weer deur 17 Films & The Film Factory vervaardig, dieselfde span agter Pad na jou hart en Vir altyd.

Stroomop word landwyd deur Ster-Kinekor, Nu-Metro en onafhanklike teaters uitgereik. Die verfilming het in Februarie begin en word na verwagting einde Maart voltooi. Verfilming vind plaas in Johannesburg en Onseepkans in die Noord-Kaap.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.