Jo Black hou sy lyf akteur

Jo Black (Foto: Maroela Media)

Jo Black, die sanger wat meer as twee miljoen mense na die amptelike musiekvideo van sy liedjie “Skepe” gelok het, maak nou ook sy silwerskermdebuut in die Afrikaanse fliek Susters.

Die sanger het dié nuus Donderdag bevestig.

Black het in ʼn verklaring gesê sy rol is “kleinerig”, maar dat hy baie ervaring het om dié rol op ʼn natuurlike wyse op die skerm te vertolk – juis omdat hy homself gaan speel.

Fliekvlooie kan volgens die sanger glo uitsien na ʼn paar blomme in daardie yslike baard van hom.

Susters vertel die verhaal van drie aangenome susters wat van mekaar vervreemd geraak het en herenig word wanneer hulle op ʼn ontdekkingsreis gaan ná die dood van hul ma.

Die sangeres Leah, wat pas aangekondig het dat sy as die nuwe aanbieder van Boer soek ʼn vrou te sien gaan wees, het vroeër vertel dié fliek is “gevul met teer herinneringe, interessante karakters, mooi besienswaardighede en hope pret”.

“Die fliek gaan baie dinge in mense aanwakker en talle gaan hulle daarmee kan vereenselwig. Dit is boonop prentjiemooi, want ons het die fliek in die mooiste dele van die land geskiet. Daar is ʼn soort kunstigheid daaraan en ek is baie opgewonde oor dié uitreiking,” het sy vertel.

Black en Leah sing die titelsnit van die fliek, “Nooit alleen”.

Corné van Rooyen is die regisseur. Die draaiboek is geskryf deur Corine du Toit en Sandra Vaughn. Die vervaardigers is Jenny Griesel en Johan Vorster.

Susters is ʼn samewerkingsprojek tussen Inhoud Huis en kykNET. Susters word op 30 Maart landwyd uitgereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.