Karoo-filmfees: Prins Albert vol filmentoesiaste

Karoo-fimfees

Johnny Breedt voor die teater The Showroom in Prins Albert. Foto: Verskaf

deur Marlene Malan

Prins Albert, aan die voet van die Swartberge in die Wes-Kaap, is vanjaar weer die gasheer vir die tweede groot Karoo-filmfees, waar die werk van sommige van Suid-Afrika en die buiteland se topfilmmakers vertoon word.

Die Indie Karoo-filmfees, die breinkind van regisseur en produksieontwerper, Johnny Breedt, vind vanjaar van 29 Junie tot 2 Julie plaas, met die teater The Showroom in Kerkstraat as middelpunt. Breedt is ʼn inwoner van die dorp en mede-eienaar van The Showroom. Die naam “Indie” kom van die woord independent, omdat al die deelnemers onafhanklike filmmakers is en nie aan groot filmmaatskappye verbonde is nie.

Cecelia Voges, skakelbeampte vir die fees, sê met die sluitingsdag Maandag, was daar altesaam 74 inskrywings, wat 14 vollengteflieks, 9 dokumentêre en 51 kortfilms (eksperimentele en animasieflieks) insluit.

Breedt maak geen geheim daarvan nie dat hy dink Prins Albert is die perfekte plek vir bekende en kreatiewe deelnemers, asook ʼn uitgelese gehoor van filmentoesiaste. Sy ideaal is om die dorp, die teater en die fees, rolspelers te maak in ʼn bewusmakingsveldtog vir filmkundigheid op sy beste. “Vanjaar se fees is baie groter as verlede jaar s’n. Dit duur vanjaar vyf dae, pleks van drie soos verlede jaar en ons verwag sowat 1 000 besoekers.”

Karoo-fimfees

Die teater The Showroom in Prins Albert, waar die Indie Karoo-filmfees vanjaar plaasvind Foto: Verskaf

Benewens die vertoning van topfilms wat deur Breedt en ʼn span gekeur is, word werksessies vir draaiboekskryf, filmlaboratoriumwerk en redigeerkursusse vir beginners en gevorderde filmmakers ook aangebied. “Die bekende Amerikaanse regisseur Bobby Roth, se videomeestersklas vir filmregisseurs is ʼn hoogtepunt,” het Breedt by navraag gesê.

Volgens hom gaan die oud-Suid-Afrikaner, Gavin Hood, se film Eye in the Sky tydens die openingsgeleentheid vertoon word. Hood gaan ook ʼn vraag-en-antwoordsessie vir die gehoor aanbied. Breedt het as produksie-ontwerper van Eye in the Sky gewerk.

Filmentoesiaste kan ook uitsien daarna om die filmmakers en akteurs self te ontmoet. Behalwe Hood, sal Gerard Rudolf, Koos Roets, Jozua Malherbe en Rolanda Marais die fees bywoon. Breedt is tans in Puerto Rico waar hy saam met die bekende Keanu Reeves aan ʼn nuwe fliek begin werk het.

“Behalwe Eye in the Sky is van die vollengteflieks waarna feesgangers kan uitsien, Pawpaw vir my Darling deur Koos Roets, Verskietende Ster en Mignon “Mossie” van Wyk, albei deur die filmmaker Darrell Roodt, asook Twee Grade van Moord, Uitvlucht en Assignment,” vertel Breedt.

“Werklik briljante dokumentêre word vanjaar vertoon. Een van my gunstelinge is The Boers at the End of the World, oor ʼn groep Afrikaners wat na Patagonië in Suid-Amerika geëmigreer het ná die Anglo-Boereoorlog… mense wat nie onder die Britse heerskappy wou leef nie. Die film handel oor hoe hul nageslagte daar woon en steeds hul moedertaal, Afrikaans, praat.”  Ander dokumentêre is onder meer The Dream of Shahrazad, Timelines en Tiger House, en die kortfilms Therefor I am en Skewe Reënboog.

Breedt sê hy huiwer nie om te erken hy het ʼn groot toekomsvisie vir die Indie nie.

Ek wil hierdie fees een van die beste filmfeeste in Suid-Afrika maak; selfs ter wêreld. Maar terselfdertyd wil ek die formaat behou… redelik klein en intiem, propvol uitsoekwerk. Ons het vanjaar reeds heelwat meer borge, wat wys die fees word raakgesien. Ons het ook al borge vir volgende jaar se Indie gekry.

Dit gaan vir hom oor meer as net die vertoon van films, sê hy. “Dit gaan ook oor die hele Karoo-ervaring. Feesgangers sien nie net topfilmwerk nie, maar hulle kan die plaaslike cuisine, uitsoek-akkommodasie en ander toeriste-aantreklikhede geniet. Verlede jaar was ons dorp se restaurante en gastehuise ʼn naweek lank volbespreek. Wat vanjaar anders maak, is ekstra kosstalletjies op die terrein van die restaurant, African Relish, vir die gerief van ons gaste. Die teater, The Showroom, bly egter die kern van die fees, waar die openingsgeleentheid en die pryswennersaand plaasvind. Ons het ʼn paar studente vir internskappe vir die duur van die fees in diens geneem om hier te werk en terselfdertyd vaardighede in hul studieveld aan te leer.”

Die ander filmvertoonplekke is die Jans Rautenbach Schouwburg in De Beerstraat, die Hoërskool Zwartberg-saal en die Sydwell Williams-saal in Noordeinde.

Vir meer inligting en besprekings, besoek www.indiekaroofilmfestival.com; www.showroomtheatre.co.za en www.princealbert.org.za.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.