Khumba: 3D-animasie in Afrikaans met talle bekende stemme

Die 3D-animasie, Khumba sal ook in Afrikaans te sien wees.

Die 3D-animasie, Khumba sal ook in Afrikaans te sien wees.

ʼn Video en lokprent van Khumba volg onderaan die berig.

Die Suid-Afrikaanse animasierolprent, Khumba, begin vandag by teaters draai en fliekgangers gaan vir die eerste keer die geleentheid hê om ʼn driedimensionele animasieprent in Afrikaans te sien.

Khumba speel af in die Karoo en vertel die storie van ʼn sebra wat net met die helfte van sy strepe gebore word. Sy bygelowige trop glo dat die droogte wat die land getref het, Khumba se skuld is.  Khumba gaan dan op ʼn avontuur op soek na ʼn bonatuurlike watergat om die res van sy strepe te kry.

Hoewel die rolprent aanvanklik met internasionale akteurs soos Jake T Austin en Liam Neeson opgeneem is, is daar besluit om die animasieprent ook in Afrikaans vry te stel. Onder die regie van Bettie Kemp vertolk die Afrikaanse komediant, Hannes Brummer, die rol van Khumba, terwyl bekendes soos Brümilda van Rensburg, Richard van der Westhuizen, Rika Sennet, en Lochner de Kock se stemme ook gehoor kan word. Beroemde stemkunstenaar Francois Stemmet wat ook die stem van Sarel Seemonster in Wielie Walie was, vertolk die rol van die booswig, Phango die tier.  Elzabé Zietsman se stem kan ook in Khumba gehoor word.

“Ek is opgewonde om te sien hoe dit alles bymekaar kom en kan my net indink dat dit ʼn hele nuwe vlak van humor en egtheid aan die rolprent gee,” sê Anthony Silverston, die regisseur van Khumba.

Volgens Lochner de Kock, ʼn bekende in die wêreld van oorklanking, het dit gevoel soos ʼn tuiskoms. “Ons het soveel jare lank oorklanking gedoen en ek het dit so geniet om skielik weer terug te keer en dit weer te doen.”

Triggerfish Animation Studios is in Kaapstad gebaseer en Khumba is die tweede rolprent wat dié maatskappy vervaardig nadat hulle verlede jaar Adventures in Zambezia vrygestel het.

Khumba begin vandag by teaters draai en is by uitgesoekte NuMetro en Ster-Kinekor teaters in Afrikaans te sien. 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wanda ·

Waar in Gauteng (Oos-rand) kan ek die Afrikaanse Khumba gaan sien?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.