
Nicola Hanekom, Ivan Abrahams, Tobie Cronjé, Pierre van Pletzen en Diaan Lawrenson verskyn in “Hans steek die Rubicon oor”. (Foto: Mizanne Hattingh/Maroela Media)
ʼn Ondeunde man wat bloot nie sy skielike skuif na ʼn ouetehuis wil aanvaar nie en ʼn string swaargewigakteurs wat elkeen in hul eie reg diep in Suid-Afrikaanse harte gekruip het.
Dít is wat kykers kan verwag wanneer hulle ʼn fliekkaartjie vir die rolprent, Hans steek die Rubicon oor, aanskaf.
Gegrond op die Rudie van Rensburg-roman, vertel Hans steek die Rubicon oor ʼn verhaal van deursettingsvermoë, vryheid en ʼn jong gees wat weier om geblus te word. Spesiale vertonings van dié fliek gaan eersdaags in verskeie fliekteaters landwyd draai.
Pierre van Pletzen, Tobie Cronjé, June van Merch, Sandra Prinsloo en Nicola Hanekom sal as hoofkarakters in die fliek te siene wees.
“Die storie verloop so dat enigeen dit kan geniet, dit is nie ʼn oumensstorie nie, dit wil ek hardop, duidelik maak. Dit speel dalk in ʼn ouetehuis af, maar die gedagteprosesse waardeur Hans gaan, is van toepassing op alle mense,” het Pierre, wat die rol van Hans vertolk, tydens die fliek se première by die Silwerskermfees vroeër vanjaar vir Maroela Media gesê.
Diaan Lawrenson, wat die rol van Karla, Hans se dogter wat hom na die ouetehuis toe stuur, vertolk, beaam Pierre se mening.
“Die fliek is vir jonk en oud. Ons almal wil ons lewe op ons eie voorwaardes lei en almal sal daarby aanklank vind.”
Die regisseur van die fliek, Corné van Rooyen, het die Silwerskermfeestoekenning vir regisseur van die jaar vir Hans steek die Rubicon oor ingepalm.
As dit nie was vir sy oupa wat na Tobie Cronjé se voorlesing van die boek op RSG geluister het, het hy dalk nooit die rolprent die lig laat sien nie.
“My oupa, Inus van Rooyen, word vanjaar 102 jaar oud en dit is deur hom wat ek vir Hans ontmoet het,” vertel Corné, die regisseur van die fliek.
“Hy het elke dag slaafs na die voorlesing op RSG geluister en homself so met Hans se missie – om op sy eie voorwaardes oud te word – vereenselwig. Op ’n manier is die fliek ’n huldeblyk aan my oupa wat nog springlewendig en gesond is.”
Inus het selfs die première van die fliek saam met sy kleinseun bygewoon.
“Toe ek daardie storie vir die eerste keer op die radio geluister het, was ek baie beïndruk. Ek hou van ou Hans,” het Inus tydens die première aan Maroela Media gesê.
Vir Tobie, wat mense as die boekvoorleser van Hans steek die Rubicon oor leer ken het, is dit ʼn reusevoorreg om nie net deel van die fliek te wees nie, maar om ook ʼn geleentheid te hê om die rolprent op die silwerskerm te sien.
“Dit is ʼn heeltemal ander ervaring as om dit op die TV-skerm te kyk,” het Tobie in Maroela Media se ateljee gesê.
“Dit is om in ʼn teater te sit en die fliek van A tot Z te kyk sonder onderbrekings, advertensies, iemand wat jou skakel op die selfoon, jou hond wat blaf of iemand wat aan die deur klop. Dit maak ʼn groot verskil, en dit is vir my soos ʼn ontvlugting of selfs meditasie.”
Spesiale vertonings van Hans steek die Rubicon oor
Alhoewel Hans steek die Rubicon oor eers op 29 September vanjaar amptelik in fliekteaters landwyd begin draai, is daar ʼn paar spesiale vertonings wat reeds van die 25ste af in ʼn paar gekose teaters gaan plaasvind.
Dié teaters sluit die volgende in:
Pretoria
Brooklyn Mall
Centurion Mall
The Grove
Johannesburg
Cradlestone Mall
Cresta-inkopiesentrum
East Rand Mall
Rosebank Mall
Vaal Mall
Wes-Kaap
Cape Gate
Garden Route Mall
Somerset Mall
Tygervallei Mall
Oos-Kaap
Baywest Mall
KwaZulu Natal
Gateway-inkopiesentrum
Mpumalanga
Illanga Mall
Secunda Mall
Limpopo
Mall of the North
Noordwes
Motlosana Mall
Mooirivier Mall
Vrystaat
Mimosa Mall
Die fliek sal 29 September in verdere fliekteaters begin draai. Vir meer inligting, besoek die webwerwe van NuMetro of Ster-Kinekor, of raadpleeg jou naaste onafhanklike fliekteater om uit te vind wanneer die rolprent daar gaan draai.
Kyk na ‘n video van Hans steek die Rubicon oor se première hier:
Kyk na die fliek se lokprent hier: