“Komedie is ook realisties en eg,” sê Bosch

Bouwer Bosch en sy vrou Leandie du Randt Bosch in 'n romp deur Kobus Rautenbach. Foto: Maroela Media

Bouwer Bosch en sy vrou Leandie du Randt Bosch, in ‘n Kobus Rautenbach-romp, tydens die première van ‘Sy klink soos lente’. Foto: Maroela Media/Cyril Blackburn.

Bouwer Bosch, vervaardiger van die nuwe romantiese komedie, Sy klink soos lente en Amalia Uys, wat die hoofrol vertolk, het by Maroela Media ʼn draai kom maak om te gesels oor dié fliek.

Volgens Bouwer was die bemarkingstoer, waarmee hulle by verskillende hoërskole ʼn draai gaan maak het, baie lekker. “Dit is altyd lekker om by skole te kuier en ons harte met die kinders te deel oor die vermaakbedryf. Ons het natuurlik gegaan om oor die fliek te gesels, maar ons wil ook vir die kinders sê die bedryf is gesond en dit is belangrik om jou passie vir skryfwerk of toneelspel uit te leef,” sê hy.

“Dit was dus nie net bemarking van ons fliek nie en dit was baie lekker om te sien hoe toeganklik die kinders én die onderwysers was.”

Amalia beaam Bouwer se stelling. “Die kinders het so ʼn lekker positiewe energie. Ons het so welkom gevoel en dit het regtig vir my gevoel die kinders luister na ons.”

Bouwer vertel die terugvoer wat hulle kry na afloop van die Silwerskermfees en Maroela Media  en attooh! se Buitebioskoop was ongelooflik. Amalia stem hiermee saam en sê ook die terugvoer is presies wat hulle wil hoor. “Mense sê hulle hou daarvan dat die fliek so realisties is en dat mens voel die karakters en die storielyn is eg,” sê sy ingenome. “Stiaan Smith se skryfstyl is ʼn baie realistiese styl en dit is vir hom baie belangrik om eg oor te kom,” sê sy.

Volgens Bouwer het die fliek twee aspekte, naamlik die romantiese verhouding tussen die karakters, Linda en Ben en die vriendskappe wat gevorm word tussen die lede van die orkes, Groenblare, wat gestig word wanneer Ben vir Linda jok en sê hy is deel van ʼn musiekgroep.

“Die musiek wat die groep op die ou einde saam maak is ongelooflik,” vertel hy. “Die kyker volg Ben se reis waar hy groei, nie net as mens nie, maar ook as musikant, tot wanneer hy uiteindelik die temalied “Sy klink soos lente” vir Linda skryf,” sê hy.

Voor die fliek se verfilming begin het, kon Stiaan (Smith, wat die rol van Ben vertolk en ook die teks geskryf het) net ʼn klein bietjie kitaar speel, asook Bennie (Fourie), wat moes leer om die baskitaar te speel vir sy rol. “James (Cuningham) kon glad nie dromme speel nie en Wilson (Dunster) kon ook glad nie kitaar speel nie,” lag Bouwer.

“Ons het vir ʼn maand lank in die aande geoefen, want die grootste uitdaging was om dit te laat lyk asof hulle saam kan speel in ʼn groep. Ek dink hulle het baie mooi reggekom, want dit het baie druk op hulle geplaas. As hulle nie sou goed lyk terwyl hulle die musiekinstrumente speel nie, sou dit sleg op hulle akteursvermoë reflekteer het,” sê Bouwer.

Hy sê dit was vir hom en die res van die vervaardigers belangrik om nuwe gesigte op die skerm te sit. “Alhoewel Amalia nie ʼn nuwe gesig is nie, is dit die eerste keer wat sy ʼn hoofrol in ʼn Afrikaanse fliek vertolk en daarom is dit nuut vir ʼn klomp mense,” sê hy. “Daarom het ons besluit om nie musikante te kry wat kan toneelspeel nie en wou dit eerder op ʼn ander manier aanpak.”

Kykers kan ook uitsien na ʼn baie spesifieke en gestileerde kleurpalet in Linda en Ben se kostuums. Dít is te danke aan Corné van Rooyen, die regisseur en die kostuumontwerper, Camilla Janse van Vuuren.

“Oral waar Linda te sien is, is rooi baie strategies ingewerk, al is dit net haar lipstiffie. Ben se palet is weer alles groen, selfs sy kitaar is groen!” vertel hulle. “Dit is so lekker om in daardie wêreld te klim, want dan kyk jy anders na ʼn fliek,” sê Bouwer. “Jy volg dan nie net die storie nie, jy kyk dan ook na die goed op die tafel, die agtergrond en die kleure het ook ʼn emosionele konnotasie.”

Amalia verduidelik “as Linda minder lekker voel of daar is ʼn konflik-situasie, het sy nie rooi aan nie, dan is dit dalk net êrens in die agtergrond.”

Sy klink soos lente begin op Vrydag 30 September by fliekteaters landswyd draai.

Hier is die musiekvideo vir die fliek se temalied, “Sy klink soos lente”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.