kykNET bied volgende jaar unieke 10de Silwerskermfees aan

Argieffoto. (Foto: Unsplash/Corina Rainer)

Rolprentmakers, filmstudente en fliekvlooie moet hulle kalenders vanaf 23 tot 26 Maart volgende jaar oophou vir kykNET se spesiale 10de Silwerskermfees.

Die fees, wat dié keer ’n byderwetse, hibriede baadjie aantrek, sal vir die eerste keer in tandem by die Bay-hotel in Kampsbaai se Rotunda asook virtueel op die Silwerskerm-webwerf uitrol, waar besoekers onder meer toegang sal hê tot presies dieselfde vollengte rolprente, kortflieks en bedryfsbesprekings.

Terwyl ’n beperkte getal gaste onder streng Covid-19-regulasies die fees by die Rotunda sal bywoon, kan enigiemand reg oor die land met internet die fees voor hul eie skerms geniet.

Daarbenewens sal van die vollengte rolprente gedurende die fees by ʼn aantal uitgesoekte rolprentteaters en bykomende venues in Kaapstad vertoon word.

Hoewel daar registrasiegeld vir die aanlyn fees sal wees, sal die opbrengs daarvan, asook die kaartjieverkope by die venues wat vir die publiek oop is, aan die Tribuo-fonds geskenk word.

Dié fonds is verlede jaar weens die impak van die Covid-19-pandemie gestig om vermaaklikheidskunstenaars in geldelike nood by te staan.

Met 2022 se hibriede aanbod sal kykNET voortbou op die hoekstene van die Silwerskermfees: Om talent voor en agter die skerms in die plaaslike rolprentbedryf te ondersteun en ʼn seminale vertoonvenster vir dié rolprentmakers se jongste projekte te skep.

Minstens vyf nuwe vollengte rolprente en 17 kortflieks, wat onlangs met die mentorskap van die fees voltooi is, sal hul wêreldbuiging op die 10de kykNET Silwerskermfees maak.

Hoogaangeskrewe internasionale rolprentlui sal ook hul kennis, ervaring en vaardighede tydens die fees deel en daar wag ’n paar opwindende verrassings op almal wat hul vinger op die pols van die jongste storieneigings wil hou.

Die volledige program vir die 10de kykNET Silwerskermfees word vroeg volgende jaar bekend gemaak.

Intussen kan fliekliefhebbers gerus by die Silwerskerm-webwerf inloer. Die fees se aanlyn tuiste is bygewerk met ’n argief wat inligting oor al die vorige Silwerskerm‑debuutrolprente bevat. Daaronder tel ’n aantal spogflieks wat later talle internasionale toekennings ingeryg het.

2019 se Silwerskermfees‑wenner vir Beste Speelfilm, Poppie Nongena, waarvan ’n vorige kortfilm-wenner Christiaan Olwagen die regie behartig het, is byvoorbeeld in Oktober vanjaar bekroon as die Beste Buitelandse Rolprent op die BRICS-fees in Moskou, Rusland. Dit het daar teen puik rolprente uit Brasilië, Rusland, Indië en China meegeding.

Die kykNET Silwerskermfees het tradisioneel jaarliks in Augustus plaasgevind, maar in 2020 het dit die vorm van ’n drie dae lange webinaar aangeneem om plaaslike rolprentmakers die geleentheid te bied om met internasionale fliekfoendies skouers te skuur terwyl die Covid-19-pandemie die vervaardiging van nuwe werk vertraag het. Daarom moes die 10de verjaarsdagfees, wat aanvanklik vir Augustus vanjaar beplan was, ook uitgestel word.

Die 10de Silwerskermfees word in samewerking met die Stad Kaapstad aangebied.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.