Lady Gaga, Glenn Close deel Critics-toekenning

Glenn Close en Lady Gaga nadat hul gesamentlik aangewys is as beste aktrise by die Critics Choice-toekennings. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Glenn Close en Lady Gaga nadat hul gesamentlik aangewys is as beste aktrise by die Critics Choice-toekennings. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die sangeres en aktrise Lady Gaga en die veteraan-aktrise Glenn Close wat onlangs albei met ʼn Golden Globe-beeldjie huis toe is, is Sondag gesamentlik aangewys as beste aktrise by die 24ste Critics Choice-toekennings in Santa Monica, Kalifornië, in die VSA.

Lady Gaga is vereer vir haar rol as Ally in die akteur en regisseur Bradley Cooper se weergawe van die fliek A Star is Born terwyl Close vereer is vir haar rol as die vrou van Joseph Castleman, vertolk deur Jonathan Pryce, in The Wife.

Emily Blunt, Toni Collette, Olivia Colman, Melissa McCarthy en Yalitza Aparici is ook in dié kategorie benoem.

Volgens berigte het Close eerste die toekenning aanvaar. “Die wêreld speel ons teen mekaar af in hierdie beroep. Ek dink ek kan namens al die vroue in die vertrek praat as ek sê dat ons mekaar vier. Ons is trots om saam in hierdie vertrek te wees,” het Close tydens haar toespraak gesê.

“Ek is só geëerd hierdeur,” het Lady Gaga tranerig in haar toespraak gesê. “Ek het na plekke in my kop en in my hart gegaan wat ek nie geweet het bestaan of kán bestaan nie.”

Sy was ook vol lof vir haar medester, Cooper. “Bradley, jy is ʼn betowerende fliekmaker en jy is net so betowerend as ʼn mens. Ek het nog nooit ʼn ervaring met ʼn regisseur of akteur gehad soos ek met jou gehad het nie. Ek sal dit vir altyd koester. Jy was moeiteloos die liefde van my lewe sowel as die man agter die kamera.”

Glenn Close en Lady Gaga nadat hul gesamentlik aangewys is as beste aktrise by die Critics Choice-toekennings. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Glenn Close en Lady Gaga nadat hul gesamentlik aangewys is as beste aktrise by die Critics Choice-toekennings. (Foto: Jordan Strauss/Invision/AP)

Die hoofkarakter in A Star is Born, Jackson Maine (Cooper), is ʼn alkoholis en Lady Gaga het ook ag geslaan op alkoholisme in haar toespraak.

“Ek wil graag die prys opdra aan almal wat ly aan alkoholisme en verslawing of aan enigiemand wat toekyk terwyl hul geliefdes ly. Ek wou niks minder doen as om die waarheid en die mag van dié hartverskeurende dinamika uit te wys nie. Dit is dit ware ster van die fliek, nie ek nie. Dit is dapperheid en uithouvermoë.”

Bron: E! News

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.