Leandie du Randt ondergaan gedaanteverwisseling

Leandi du Randt as Emma le Roux (Foto: 'n Skermskoot uit die video)

Leandie du Randt as Emma le Roux (Foto: ‘n Skermskoot uit die video)

In seker een van die uitdagendste rolle wat Leandie du Randt nóg vertolk het, verruil sy die karakter van die beeldskone meisie langsaan vir dié van die aksieheldin Emma le Roux in Jagveld. Sy vertolk die rol van die dogter van ʼn oud-recce – self sonder ʼn enkele bang haar op haar lyf.

Die amptelike lokprent vir dié nuwe Afrikaanse fliek is onlangs bekendgestel.

Jagveld, geskryf deur Deon Meyer, alombekend vir sy topverkopers in die misdaadgenre, pak in dié draaiboek die aksieriller aan, ʼn genre wat dekades laas in Suid-Afrika, en spesifiek in Afrikaans, gesien is.

Die fliek is die verhaal van die sagte, pasifistiese Emma, ʼn laerskoolonderwyseres, wat op pad is na haar familieplaas in die Groot-Karoo. Sy het die roete na die plaas al ’n duisend keer afgelê, sonder voorval. Op dié spesifieke dag kruis haar paaie met dié van Bosman, Baz en Jay. En Boela, AJ en Piet.

Leandi du Randt as Emma le Roux (Foto: 'n Skermskoot uit die video)

Leandie du Randt as Emma le Roux (Foto: ‘n Skermskoot uit die video)

Bosman is die baasbrein van die dwelmsindikaat. Hy is ʼn psigopaat, is meedoënloos en gewelddadig. Baz en Jay is sy meelopers, moordenaars en monsters. AJ en Boela is die rykmanseuns wat hoop om geloofwaardigheid en vinnige rykdom te verwerf. En Piet, die bangbroek, is die swakkeling wat alles en enigiets vir sy neef Bosman sal doen.

Emma sien hoe dié ses ʼn polisieman skiet. En hulle sien sy sien hulle dit doen. Nou jag hulle haar soos ʼn dier in die Groot-Karoo. Sy is mos ʼn maklike prooi, dis gou-gou klaar. Die probleem is Emma is Jacques le Roux se kind. En Jacques le Roux was ʼn recce. Hierdie is ʼn jagtog wat nie volgens plan wil verloop nie.

Ander akteurs wat in die fliek te sien is, is Neels van Jaarsveld, Tim Theron, Bouwer Bosch, Danie Putter, Luan Jacobs en Edwin van der Walt.

Die fliek, vervaardig deur Karoo Film Company vir kykNET, word op 17 Maart uitgereik. Verskeie premiѐres word vir die fliek gehou op onder meer 22 Februarie by die Stellenbosch Wynfees, 24 Februarie by die Ster-Kinekor in Tygervallei in Kaapstad, op 2 Maart by The Snowflake op Potchefstroom en op 3 Maart by die Mimosa inkopiesentrum in Bloemfontein.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Hannelie ·

Wel ek het nie baie verbeelding nodig nie……maar en GAAN hierdie fliek nie mis nie !!!!

Helen ·

Ek is so mal oor haar. Al haar rolle is goed, watookal sy speel. Alles aan haar is mooi. Sy het voor in die ry gestaan toe al die goed uitgedeel was. Ek kan nie wag vir die fliek nie. EK is nie ‘n groot fliekvlooi nie, maar die een mis ek nie!

Jan S ·

Dit lyk heel oulik, maar die skiet tonele is nie realisties nie…Ha ha ha die rewolwer se silender staan doodstil en draai nie soos sy skiet nie…en die loop lig net mooi niks van die terugslag nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.