Leon se resensie: Beauty and the Beast

Beauty and the Beast ****

Met Emma Watson en Dan Stevens
Regisseur: Bill Condon

Hierdie heldin laat beslis nie so maklik oor haar loop soos haar ander sprokiessusters nie. Belle (die sprankelende Emma Watson) is ʼn kampvegter vir vroueregte wat haar nie sommer deur koue pampoen of rekenaargedrewe wolwe laat afskrik nie. Sy glo vroue moet kan lees en skryf en moet hulle nie deur selfsugtige, eiegeregtige mans laat domineer nie.

Walt Disney se vuurwarm nuwe weergawe van hierdie sprokieslegende blink met sy kleurvolle en uitbundige uitbeelding van die verhaal van ʼn doodgewone meisie wat, anders as haar vriendinne, darem kan lees en skryf! en wat na haar verlore pa (Kevin Kline) in ʼn getoorde kasteel gaan soek. Daar ontmoet sy ʼn selfsugtige prins (Dan Stevens met meer hare as ʼn beer!) wat vervloek is om vir ewig as ʼn monster te lewe, tensy ʼn mooi meisie op hom verlief raak.

Die choreografie is asemrowend en uitspattig-mooi – so erg dat jy deur die prag en praal oorrompel sal word. Boonop hou die spelers so goed noot terwyl hulle steeds stewig karakteriseer, dat elke karakter oortuig, selfs die getoorde eetstelle, klavesimbels en garderobes. Die kamera swiep, dans, tol en tuimel deur die kasteel met ʼn uitbundigheid wat jou sal bekoor. Boonop is daar ʼn stewige vonk tussen die karakters, ook in geanimeerde vorm, en ondersteun die swart, aweregse humor die gebeure op ʼn kundige en kleurvolle manier.

Die ster van die produksie is nie net die kostumiers en stelinkleders nie, maar ook Luke Evans as Belle se amoreuse kêrel wat haar maar net nie met rus wil laat nie, terwyl Josh Gad as sy sidekick of narre-vriend elke toneel kaap waarin hy is. Ma’s en hul dogters behoort dol te wees hieroor, maar die gesin sal vind dat die geweldige koste verbonde aan die produksie op die skerm duidelik wys, en jou nie weer sal laat los as dit jou eers getoor het nie.

Sterk aanbeveel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Disney geld werd nie ·

Die fliek is meestal donker en is nie iets wat ek sal aanbeveel vir voorskoolse kinderjies voor bedtoegaan tyd nie. Ek is persoonlik mal oor die oorspronklike tekenprent en so ook is my meisiekind – ek het seker al minstens 30 keer dit gesien saam haar (en gee glad nie om om dit nog 30 keer te sien nie), Miskien het ek meer verwag maar ek was baie teleurgesteld in die nuwe weergawe. Die homoseksuele en inter-ras verhoudings pla my persoonlik glad nie maar die produksie self was definitief nie die kaartjie prys werd nie. Miskien is ek puristies, maar vir my was die onlangse Cinderella weergawe ‘n fantastiese interpretasie van die oorspronklike Cinderella tekenprent (en ja, iets wat ek saam my kleinding kan geniet). Disney het die pad byster geraak voel ek met hul her interpretasie van Beauty and The Beast – dit voel uitgerek, donker, oorbodig, en het misluk om my belangstelling deur die fliek te behou. BB is ongelooflik suksesvol by die loket maar ek kan dit ongelukkig nie aanbeveel nie.

Ronel ·

Ekt al gevind dat as Leon van Nierop n fliek hoog aanbeveel, moet mens dit eerder nie gaan kyk nie.

Skip4 ·

Dis ń amazing “musical”, fantasties! Gaan kyk dit gerus, hoogs aanbeveel!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.