Leon se resensie: Guardians of the Galaxy 2

Guardians of the Galaxy 2 ****

Met Chris Pratt, Zoe Saldana en Kurt Russell
Regisseur: James Gunn

“Hoekom probeer jy nog die storie vertel?” vra ʼn leser nou die dag nadat iemand probeer om hierdie storie te verduidelik. Want dit gaan eintlik maar net om goeie, lomp ouens wat boosdoeners in die ruimte aanvat en probeer oorwin. Natuurlik is die helde verloorders wat soveel struikelblokke in hul eie paaie plaas dat dit ʼn wonder is die skurke val nie ook daaroor nie. Daar word op hulle geskiet, hulle jaag met psigedeliese ruimtetuie deur die heelal, laserstrale deurboor hulle sonder dat hulle iets oorkom, en die held en heldin haat dit om van mekaar te hou en daar is wonderlike retro-musiek uit die sewentigs. Maar romanse seëvier uiteindelik.

Die spesiale effekte is so oorweldigend en asemrowend (veral in 4D-X-teaters waar die stoele skud en water in jou gesig geblaas word) dat die akteurs moet uithaal en wys om by te bly. Maar gelukkig is die karakterisering sterk genoeg, en die spel gesaghebbend genoeg om mense, boomtakkies (soos Groot) en muishonde toe te laat om tog hul merk as karakters te maak. Daar is dus ʼn balans tussen uitspattige, groter-as-die-lewe-self gebeure, gekoppel aan ʼn storie vol kinkels, en die karakters aan die ander kant.

Die rolprent bied ook asemskepkans tussen die oorloë en ruimtejaagtogte. Net jammer daar is ses eindes te veel, en dat die rolprent ongeveer 15 minute te lank is. Maar as jy jou daaraan oorgee, en jy hou van Marvel-strokies, mag dit jou betower. Cool, uitspattige ruimtekaperjolle. Dit is wetenskapfiksie op sy vrolikste. Kortom: dis die meeste pret wat jy in Meimaand kan hê, al kos die 3D-kaartjies in IMAX-formaat meer geld, om nie te praat van 4D-X-teaters nie.

Die rolprent wys landwyd by Ster-Kinekor- en Nu-Metro-teaters.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Droe vel ·

Met die winter en droe lug nou sterk oppad voel my vel soos die van hierdie karakter sn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.