Leon se rolprentresensie: Kong

471706509012231-skullislandMet Tom Hiddleston, Brie Larson en Samuel L. Jackson

Regisseur: Jordan Vogt-Robberts

As jy gelukkig genoeg was om die oorspronklike 1933-weergawe van hierdie epiese verhaal te sien – hierdie herbedink van die storie om by meer moderne tye aan te pas is baie nader aan dié weergawe as die 1976- en 2005-weergawe wat albei maar bra plastiek en onbevredigend was.

In die nuwe weergawe, wat gekenmerk word deur asemrowende spesiale effekte wat jou na jou asem sal laat snak, beland ʼn groep avonturiers, huursoldate en fortuinsoekers op Skull Eiland – ʼn geheimsinnige plek wat altyd deur mis versluier word en waar daar skynbaar nog prehistoriese diere woon. Mense het niks daar verloor nie, maar hierdie groepie steur hulle nie daaraan nie. Gou ontmoet hulle die legendariese reuse-aap (King) Kong wat die eiland se ekologie in balans hou.

Elke karakter het sy of haar eie motiewe. Die rolprent lewer dan kommentaar op wat elkeen daar soek. Aangesien dit in 1973 afspeel, steek politiek sy lastige kop uit, want die VSA is feitlik lam gelê deur Viëtnam en Watergate. Daarom wil Samuel L. Jackson as ʼn soldaat Kong uitwis omdat hy van sy soldate doodgemaak het. Indirek wil hy eintlik die oorlog teen Viëtnam op hierdie manier wen.

Dit is egter ʼn fotograaf, die bekroonde en beeldskone Brie Larson, wat ʼn soort verwronge vriendskap met die aap begin en wat die rolprent na sy dramatiese klimaks met ʼn hart stuur.

Die kreature wat geskep is, is ontsagwekkend en so goed nageboots, jy sal jou oë nie glo nie. Maar die menslike karakters is ewe sterk, dus registreer hulle as volbloed mense en nie net monstervoer nie. Die aksie word ook nie sodanig opeengestapel dat ʼn mens later monstervoos raak nie.

Kong: Skull Island moet in IMAX of 3-D gesien word om behoorlik te waardeer. Sterk aanbeveel en baie beter as wat jy dalk sou verwag. Die rolprent word 10 Maart vrygestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.