Leon van Nierop: Flieks wat jy in 2019 moet sien

Die kompetisie raak elke jaar net sterker en sterker, en in Suid-Afrika trek ons veral in Januarie aan die langste punt, nie die kortste nie! Want so veel van die rolprente wat op ʼn Oscar kan aanspraak maak, open eers in Januarie.

Mary Poppins Returns is die eerste rolprent wat dit in 44 jaar waag om die Mary Poppins-karakter verder te ontwikkel, laat staan nog iemand anders as die ikoniese Julie Andrews in die hoofrol te plaas! Emily Blunt, wat mense nog van die riller A Quiet Place sal onthou, speel nou die hoofrol. Mary vermoed dat die Banks-kinders, wat sy oorspronklik in die sestigerjare gehelp het, nou as volwassenes in die moeilikheid is. Natuurlik daag sy net betyds op, rooi hoedjie en al, en met haar towersambreel!

ʼn Fliek waarna mense al maande lank uitsien, is Dana Snyman se Dominee Tienie met Frank Opperman in die hoofrol. Sallas de Jager is die regisseur. Soos in die gelyknamige verhoogstuk, gaan dit oor ʼn bedrukte dominee wat in ʼn geloofskrisis beland. Hy voel dat sy gemeentelede hom na al die jare begin misbruik, maar durf hy in opstand kom? Die fliek gaan beslis ontroer.

Dumplin’, wat ook in Januarie begin, is die onwaarskynlike titel vir ʼn hartverskeurende komedie oor ʼn tienermeisie wat oorgewig is, en wie se ma (Jennifer Aniston) ʼn voormalige skoonheidskoningin was. Wat gebeur as die jonge dame besluit om ook aan ʼn skoonheidskompetisie deel te neem? Die storie volg nie die pad wat jy verwag nie en verduidelik: niemand kan ooit vir jou voorskryf wie jy moet wees nie.

Robert Redford verseker ons hy tree nou af, en in The Old Man and The Gun beeld hy ʼn bejaarde bankrower uit (op ʼn werklike persoon gegrond) wat gedurig uit die tronk ontsnap en nie kan ophou om banke te beroof nie. Hy is regtig verslaaf daaraan!

Beautiful Boy volg in Ben is Back se voetspore en is gegrond op die ware verhaal van ʼn seun (Timotée Chalamet) wat aan dwelms verslaaf is, en homself begin vernietig. Sal sy geduldige pa, Steve Carell, kan help? En hoeveel Oscarbenoemings gaan die fliek kry?

Liefhebbers en bewonderaars van M Night Shyamalan wat Split en The Sixth Sense gemaak het – (Split was so ʼn onverwagse treffer), het ʼn vervolg daarop met Bruce Willis verfilm. Dit is ʼn sielkundige riller genaamd Glass, terwyl nog ʼn vervolg, dié slag die derde hoofstuk in die treffer-animasiereeks How to Train Your Dragon, op 1 Februarie deur die ruimtes sweef en tol.

The Favourite, wat op 1 Februarie open, speel in 18e eeuse Engeland af, en sluit by ʼn sieklike koningin Anne aan, (ʼn besliste Oscarbenoeming vir Olivia Colman) en wys haar vriendskap met ʼn vrou wat haar help om die land te regeer, Lady Sarah (Rachel Weisz). Maar daar is ʼn kinkel in die kabel.

Aan die plaaslike front begin Quentin Krog van Thys en Trix-faam se jongste rolprent, ʼn opstuur van die western-genre, Ander Mens in Maart, en op 14 Februarie maak mense kennis met Liewe Lisa. Christiaan Olwagen, wat vanjaar soveel sukses met die veelbesproke Kanarie gehad het, skok die land weer met sy verwerking en aanpassing van Anton Chekhov se bekende drama, Die Seemeeu op 15 Maart met Rolanda Marais en Sandra Prinsloo in van die belangrikste rolle. Jy sal nie weet wat jou getref het nie!

Internasionale rolprente om na uit te sien sluit in Saoirse Ronan en Margot Robbie in ʼn nuwe weergawe van die stryd tussen Koningin Elizabeth 1 en Mary van Skotland eeue gelede, Mary, Queen of Scots op 1 Maart, terwyl nog ʼn Oscar-mededinger, Green Book op 15 Februarie begin. Dit handel oor rassisme wanneer ʼn stroewe man, gespeel deur Vigo Mortensen, ʼn swart man, Mahersala Ali, deur die moeilike Suide van Amerika gedurende die jare 60 moet vergesel.

So baie nuwe flieks, so min tyd!

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.