Leon van Nierop kies 2018 se beste flieks

“Die beste rolprente van 2018!” Daardie woordjie “beste” is altyd bedenklik en aanvegbaar, want iewers is daar ‘n fliek wat uitgelaat is, of waarmee iemand nie saamstem nie. Maar hier is die sogenaamde beste tien rolprente van die jaar wat eintlik tot debat aanleiding kan gee, juis omdat joune dalk nie daarop is nie. Maar die meeste is op DVD beskikbaar, dus kan jy selfs daar probeer om op te vang en jou eie gevolgtrekkings te maak.

Hierdie rolprente is in geen spesifieke volgorde nie.

Three Billboards Outside Ebbing, Missouri het almal katswink geslaan wat getuie was van ‘n ma (die Oscar-bekroonde Frances McDormand) wat opgetree het toe die aanranding op haar dogter ongestraf gebly het deur ʼn polisiemag wat skynbaar apaties gestaan het. Uitmuntende spel, ʼn draaiboek wat buitensporige, “onlogiese” optrede verduidelik het, en die onselfsugtige liefde van ʼn ma teenoor haar dogter, het die rolprent na Oscar-sukses gestuur.


Bitterlik min mense het Call Me By Your Name gesien, moontlik omdat dit tematies na iets geklink het wat in ʼn beperkte smaak sou val. Maar die liriese fotografie, die viering van ’n verbode liefde wat kultuur- en seksuele verskille beklemtoon het, en sensitiewe regie, het hierdie liefdesverhaal uniek gemaak. ʼn Student (die briljante Timothée Chalamet) raak verlief op ʼn navorser (Armie Hammer was nommerpas in die rol) maar hulle verhouding sou grense verskuif en identiteite verander. Uitstekend, maar jou kop moet oop wees.


Ben is Back begin eers op 28 Desember, maar is ongetwyfeld een van 2018 se mees ontroerende en nugtere ervarings. ʼn Ma (Julia Roberts was nog nooit beter nie) is geskok as haar dwelmsverslaafde seun (Lucas Hedges gaan ten minste benoem word) uit ʼn rehabilitasiesentrum vir Kersfees opdaag. Maar hy dra sy emosionele en fisiese letsels saam met hom. Hoe ver strek ʼn ma se liefde vir haar seun? Meevoerend.


As ʼn rolprent al ooit opgesom het waarom daar ʼn kloof tussen ʼn tienermeisie (Saoirse Ronan) en haar ma (Laurie Metcalf) is, is dit Greta Gerwig se insiggewende Lady Bird. Vrede maak met hormone en tienerneurose en angs, om nie van rebellie te praat nie, kry hier ʼn insiggewende nuwe aanslag.


Saoirse Ronan speel ook die hoofrol in On Chesil Beach, wat feitlik niemand gesien het nie. Dit gaan oor twee jong verliefdes wat trou maar mekaar nie goed genoeg ken nie, en op die huweliksaand besef hulle het ʼn fout gemaak wat nie in ʼn kits reggemaak kan word nie. Gegrond op Ian McEwan se roman oor die rol van seks en die gebrek aan ouerlike leiding in verhoudings.  


 The Wife met Glen Close, wat moontlik vir ʼn Oscar benoem sal word, ondersoek ʼn vrou se onselfsugtige liefde vir haar verwaande man (die bedaarde Jonathan Pryce) en hoe liefde soms nie die boeie wat opportunisme daarom slaan kan afskud nie. Die einde sal jou aangryp maar ook skok, wanneer ʼn vrou wat altyd haar man se stories oorgeskryf het, moet toekyk hoe hy die hoogste letterkundeprys in die wêreld, die Nobelprys, onverdiend ontvang.


Twee Suid-Afrikaanse rolprente, wat bewys het dat die publiek uiteindelik besig is om kwaliteit bo kwantiteit te stel en wat ʼn groter verdraagsaamheid tot gevolg gehad het, haal die top tien. Die eerste is die baanbrekersfliek Kanarie. Hierdie sanggroep is destyds in die Weermag gestig en troepe het die land vol getoer en die weermag se beeld help verbeter. Een troepie, die verrassend-effektiewe Schalk Bezuidenhout, beland egter in ’n seksuele identiteitskrisis. Christiaan Olwagen se flambojante en eksperimenterende regie verdien vermelding.


Dieselfde geld Johan Cronjé se Wonderlus – ʼn sielsopenbarde fliek wat die Afrikaanse rolprent se standaard met rasse skrede verbeter het. Dit gaan oor ʼn groep jong manne wat op ʼn troue bymekaarkom en hul eie verhoudings met hul meisies in heroënskou neem. Dikwels ontmoet ʼn mens jou regte siels- en huweliksmaat nadat jy getrou het, waarsku die briljante rolprent. Maar wat dan?


ʼn Fliek waarby min mense aanklank gevind het, maar wat gewaag het om style te vermeng en verskillende genres te laat oorvleuel, is The Shape of Water. Uiteindelik sê die rolprent: liefde is liefde, dit maak nie saak hoe die ander persoon lyk of hoe groot die verskille is nie. Dit is ʼn unieke storie wat eintlik ʼn huldeblyk aan die ou monsterrolprente van die jare her is. Dit verander ʼn mens se siening van wat as “goed” bestempel word radikaal!


En dan is daar American Animals – ʼn rolprent so anders, jy is aanvanklik verward en bied selfs teenstand. Dit gaan oor die domste en een van die mees waaghalsige, kortsigtige rooftogte wat ooit gepleeg is. Maar die regisseur, Bart Leyton, se vertelstyl is heeltemal anders en soms onthutsend. Hy gebruik die werklike rowers om kommentaar te lewer op hoe hul rooftog in die fliek gedramatiseer is. Hierdie wisselwerking gee ʼn nuwe siening van diefstalrolprente. Uitmuntend. Probeer dit op DVD kry.


Anders noemenswaardige flieks sluit in Ellen: die Ellen Pakkies Storie, Nommer 37, Love, Simon, I, Tonya en Widows wat nog tans wys.

*Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprenbedryf, Daar doer in die fliek, is verlede jaar uitgegee. Sy jongste romans, Sielsmokkelaar en Stralerjakkers, verskyn later vanjaar.

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae