Leon van Nierop se fliekresensie: Bombshell

Bombshell ****
Met Margot Robbie, Charlize Theron en Nicole Kidman
Regisseur: Jay Roach

Praat van katterig! As jy nou al ooit ʼn klomp sterk, beeldskone, slim, ambisieuse vroue in pragtige, sexy uitrustings in een vertrek (of in hierdie geval ateljee!) saam gesien het, is dit in hierdie rateltaai drama.

Dit laat jou deur nuwe oë na nuusprogramme en die politiek agter die kameras kyk. Nie dat ons werklik met Amerikaanse TV-stasies se hardebaard nuusprogramme kan kompeteer nie, maar hierdie rolprent kry ʼn ekstra dimensie by wanneer seksuele teistering aan die lig kom. Die #MeToo-beweging vorm een van die hooftemas wanneer vroue in opstand kom omdat hulle hulle pad moet oopslaap om bevordering te kry.

Charlize Theron, feitlik onherkenbaar onder prostese en grimering, vertolk die rol van Megyn Kelly, ʼn nuusaanbieder op ʼn televisiestasie wie se lewe omvergegooi word wanneer een van haar kollegas, Gretchen Carlson soos gespeel deur Nicole Kidman, ontslaan word en haar grootbaas dan aankla van seksuele teistering. Die rolprent is terloops op die waarheid gegrond.

Die hoof van Fox Nuus is Roger Ailes, wat reeds vir ʼn dekade daarvoor berug is dat vroue in sy kantoor verdwyn en daarna weer te voorskyn kom met blink bevordering. Die seksuele gunsies wat die vroue hom moes gee, herinner aan die Harvey Weinstein-skandaal wat tans in Hollywoodse howe afspeel. En die rolprent takel hierdie tema en ontmasker wat regtig in die groot nuuskantore van Fox Nuus gebeur het.

Die rolprent word veral gedra deur die uitstekende spel van vroue soos veral Charlize Theron en Margot Robbie (albei vir Oscars benoem) asook Kate McKinnon. Dit is ook benoem vir beste grimering. Dit ontbloot die vrees, agterdog, venyn en oorloë wat elke dag in die Amerikaanse televisiewêreld afspeel.

Uitstekend. Jy sal dikwels nie jou eie oë glo nie.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Louise ·

#MeToo na 30jaar verstaan ek net nie.
As so iets gebeu moet dit dadelik aangemeld word of ek voel binne n sekere tyd. Verstaan Ni na 30jaar nie!

katerinadiekat ·

Ek sal niks kyk waarin Charlize n rol speel nie. Sy maak my naar.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.