Leon van Nierop se fliekresensie: Eiffel

Eiffel ****
Met Romaine Duris en Emma  Mackey
Regisseur: Martin Bourboulon

“Hoekom sal ek na ʼn fliek oor die Eiffeltoring wil gaan kyk?” vra jy seker. “Ek kan, met die huidige wisselkoers, nie Frankryk toe ry om te gaan kyk nie. Ek kan nie eers my tenk vol brandstof maak nie! Dus koop ek liewer ʼn poskaart!”

Die antwoord is: Maar jy verstaan nie! Hierdie fliek, wat der miljoene gekos het en van die beste denkbare towerkunsies en filmmateriaal gebruik, gaan oor hoe die toring tussen 1886 en 1889 deur Gustave Eiffel gebou is! Jy sal in ongeloof staar na hoe die toring opgegaan het. Die besware, struikelblokke, probleme, humeure wat ontplof het … en ʼn liefdesverhaal.

Ja, inderdaad, die Eiffeltoring was eintlik ʼn romantiese werk van liefde, die geskenk van ʼn geniale argitek en brugbouer aan die vrou van sy hart. Hierdie minder bekende storie word in kleur en geur vertel in dié fliek in Frans met Engelse byskrifte. Maar dit is die bouproses en moeisame vordering wat ʼn mens oorbluf na jou asem laat snak. En dan nog die pragtige liefdesverhaal as pasella.

Vir lesers wat lanklaas ʼn goeie kunsfilm gesien het, is hierdie die ware Jakob. Dit is net so behep met karakterontwikkeling en subteks as met die opgaan van die toring. Daar word ook verduidelik hoe die toring staande gebly het en nie in die Seinerivier weggesak het, of deur sterk winde omgewaai is nie.

Beslis ʼn besoek werd. Dit wys slegs in teaters.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.