Leon van Nierop se fliekresensie: Extraction

Extraction

Extraction  ***
Met Chris Hemsworth en Chris Jai Alex
Regisseur: Sam Hargreave

Resensente word dikwels oor die kole gehaal, en sommer gekielhaal ook, omdat hulle kwansuis harte van klip het en onsimpatiek, of sou dit apaties wees, teenoor aksierolprente.

Dit hang egter af hoe daardie aksierolprent se Lego-blokkies opgestapel is en hoeveel bloed tussen die blokkies afdrup. Of daar darem bietjie subteks is, of die buitensporige aksie oortuig en of daar van produksiewaarde sprake is.

Speel die stad waarin die aksie voltrek byvoorbeeld ʼn belangrike sosiale rol? En is die held darem meer as ʼn psigopatiese kartonfiguur (soos John Wick) wat mense voor die voet uitmoor met die verskoning dat hy van die skuim van die aarde ontslae raak … en tussendeur slim kwinkslae kwyt raak.

Feit is: aksieflieks is geneig om in ʼn warboel van chaotiese, befoeterde skiet-skop-en-doodbloei-ekstravaganzas te ontaard waar honderde mense voor die voet doodgeskiet word in die naam van glinstervermaak, en in die uiters gewelddadige land waarin ons woon, is dit bedenklik om lyke wat opmekaar gestapel word as vermaak voor te doen. Of selfs te vier met ʼn vuis in die lug en ʼn springmielie in die kies.

Chris Hemsworth se jongste geweldopera het ʼn klein bietjie meer om die lyf as net om gesiglose mense met dowwe koeëlgeluide te laat sterf en ʼn gebrek aan doodskiste te veroorsaak. In dié Sam Hargrave-rolprent se geval is die aksie sy geld werd, veral die talle, onmoontlike en oordadige jaagtogte.

Mens wonder of die arme Tyler Rake, gespeel deur Chris Hemsworth, ooit kans kry om te eet, water te drink of badkamer toe te gaan, want vir twee dolle ure hardloop en skiet hy net. Hoe hou die man se blaas dit? Hy moet die seuntjie van ʼn dwelmsmokkelaar gaan red wat ontvoer is, maar natuurlik word hy as oud-huursoldaat net gebruik, en het ʼn mens nie veel erg aan hom as mens nie. Miskien hou jy van die ooglekkergoed wat die aantreklike Chris Hemsworth bied, maar jy het nie veel erg nie aan die karakter as mens nie. Maar dan skiet hy so vervlaks goed en red hy ʼn kind se lewe terwyl hy ons supersonies vermaak.

Hierdie Netflix-film is die eerste waarskuwing dat wyedoek-aksiefilms deesdae hul tuiste op die plasmaskerm kry, want ʼn mens moet hierdie gevegte eintlik in Imax-teaters sien. Desnieteenstaande mag dit ʼn klomp manne vrolik vermaak voordat hulle ʼn tjoppie op die vuur gooi (deesdae sonder bier!) en vuis stamp omdat Chris so vinnig kan hardloop. Dit bied aksie-oordadigheid met styl en ʼn bietjie meer houding as gewoonlik.

Oppas net, daar is baie geweld in hierdie koel fliek. En Hemsworth se stoppels bly deurgaans ewe lank…

Die fliek is op Netflix te sien met ‘n ouderdomsbeperking van 16+.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.