Leon van Nierop se fliekresensie: Frozen II

Frozen II  ****
Met die stemme van Kristen Bell en Josh Gad
Regisseurs: Chris Buck en Jennifer Lee

Daar is slegs twee woorde in Afrikaans, wat nie te dikwels gebruik word nie (behalwe in sepies!), wat die reaksie op hierdie aanskoulike vervolg op die grootste animasietreffer ooit kan opsom: “popel” en “swymel.” En na aanleiding van die heerlike debat wat tans gevoer word oor watter vloekwoorde deesdae toelaatbaar is in Afrikaans, sou sommige mense dalk liggies frons oor hierdie twee beskrywings.

Maar daar is nie ʼn swetswoord van ʼn dag oud hier teenwoordig nie. Want as ʼn mens so na die ma’s en hul dogtertjies kyk wat uit ʼn onlangse voorvertoning van Frozen II gestap het, is daar net twee beskrywings wat hul reaksies kan opsom: “popelend” en “swymelend”.

Dogtertjies met rooi, blosende wangetjies in hul beste partytjierokkies het uitgestap, steeds besig om die laaste springmielies te verorber, terwyl ma’s uitbundig vir mekaar geglimlag het: “Haai, my moeder, was dit nou nie te oulik nie!” Terwyl een jonger meisie gefluister het: “Daardie Kristoff met die kuif is darem vir jou oulik, hoor! Ek het sommer op hom verlief geraak!”

Frozen I se storie was meer getrou aan die Hans Christian Andersen-sprokie van 1845 waarop dit losweg gebaseer was. Twee susters, wat maar net nie volkome vrede bymekaar kon vind nie (die een was warm en vriendelik, die ander so koud dat alles om haar gevries het), se kwik het darem bietjie gestyg in hierdie vervolg. Ons groepie vriende, waaronder Elsa en Anna, vertrek dié slag na ʼn betowerde woud om die oorsprong van Elsa se kragte na te speur. Want indien dit verkeerd aangewend word, kan haar kragte die natuur en alle mense soos standbeelde laat vries.

Een ding van Disney-ateljees: die tekeninge, waaraan jare gewerk word om dit te vervolmaak, is pragtig. ʼn Mens verdwaal in die beeldskone woud en berge, en wanneer die koue toesak, verblind daardie swierige ys-vlokkies jou oë.

Ma’s en hul dogtertjies mag gek wees oor hierdie kinderfantasie oor die vriendskap tussen twee susters wat towerkragte nie eers kan skaad nie. Alhoewel die liedjies dié slag nie so lekker saam geneurie kan word nie, is hierdie vervolg op die eerste gevriesde sprokie so vrolik, dit sal enige Kers-bedruktheid lag-lag ontvries. Sterk aanbeveel vir veral kinders.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.