Leon van Nierop se fliekresensie: I Still Believe

I Still Believe ***
Met KJ Apa en Britt Robertson
Regisseurs: Jon Erwin en Andrew Erwin

As iemand se geloof al ooit tot die uiterste beproef is, is dit Jeremy Camp s’n. En hierdie aangrypende rolprent is op die waarheid gegrond. Baie lesers sal dit seker herken. Dit vertel die verhaal van die idilliese romanse van die gospelsanger Jeremy Camp (KJ Apa van TV se Riverdale) en sy pragtige vrou Melissa (Britt Robertson). Mooier en suiwerder kon ʼn verhouding nie gewees het nie. Hy het haar op ʼn gospelkonsert ontmoet dat hy haar daar raakgesien het terwyl hy gesing en kitaar gespeel het.

Maar toe tref ʼn tragedie die paartjie wat ʼn mens nie hier wil verklap vir diegene wat nie dié geskiedenis ken nie. Hy het in diep depressie verval, en daar was selfs tye wat hy sy eie geloof begin bevraagteken het. Hy het ook vir God gevra hoekom hierdie tragedie hom getref het. Maar gebed en geloof het hom deur ʼn baie moeilike tyd geneem en het hom die krag en inspirasie gegee om aan te gaan, weer musiek te skryf en voor mense op te tree. Ook om belydenis te doen en gehore te inspireer met hoe hy deur die ergste krisis in sy lewe gekom het.

KJ Apa is ook verantwoordelik vir die sukses van hierdie fliek, want sy energieke en charismatiese spel help om Jeremy Camp meer as net ʼn gospelsanger en tragiese karakter te maak. Hy word die outjie langsaan van wie ons almal hou en vir wie ons simpatie voel. Hy wys ons wat gedoen kan word as jy sterk genoeg glo.

Mense is gaande oor die rolprent, veral in hierdie moeilike tye waardeur ons nou gaan, en van oraloor hoor ʼn mens hoe gehore geïnspireer is deur hierdie treffende, ware verhaal. As jy dus nodig het om bietjie uit te kom, is NuMetro, wat dié rolprent versprei, (en SterKinekor) se teaters steeds oop, maar net op spesifieke tye met streng veiligheidsmaatreëls. Jy kan dus steeds hierdie rolprent sien. Dit mag jou besiel en met nuwe oë na beproewing en donker tye laat kyk.

Sterk aanbeveel.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.