Leon van Nierop se fliekresensie: Memory

Memory ***
Met Liam Neeson en Monica Belucci
Regisseur: Martin Campbell

Daar is nie veel nuut aan hierdie aksiestorie nie, maar daar is wel ʼn kinkel wat in die titel opgesluit lê en wat ʼn mens nie hier wil verklap nie.

Al wat jy hoef te weet, is dat ʼn sluipskutter en moordenaar (Liam Neeson), soos gewoonlik in dié soort flieks gebeur, teruggelok word vir ʼn laaste opdrag. Kinders word in sluikhandel verkoop en die polisie slaan toe. Maar dié slag staan Neeson aan die verkeerde kant van die gereg en besef die implikasies amper te laat.

Soos vla oor poeding, kleur die aksie en gevegstonele die dramatiese gebeure, en wat vir die derde ster verantwoordelik is, is omdat jy nooit regtig weet wat om volgende te verwag nie. Telkens kinkel die rolprent in ʼn moedswillige moeiliker rigting en gee bietjie meer dimensie aan die karakters en gebeure.

As Downton Abbey (2022) nie jou spreekwoordelike koppie Engelse tee is nie, mag Liam Neeson se vasberade gesig, waarin die lewe oud geword het, sy koppigheid en morele dilemma jou aangryp. Dis inspanningloos en gemaklik sonder te veel wat kan skok. Aksie kry so ʼn fraksie van sy goeie naam terug.

Maar as jy werklik ʼn goeie aksiefilm wil sien, wag vir die plaaslike (Afrikaanse) Indemnity (2021) wat op 13 Mei begin.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.