Leon van Nierop se fliekresensie: Onward

Onward ***   
Met die stemme van Tom Holland en Chriss Pratt
Regisseur: Dan Scanlon

Wanneer laas kon jy sê: “Skat. Kom ons gaan fliek saam met die kinders? Dan bring hulle sommer hul maatjies saam.” Bestudeer ʼn mens die ouderdomsbeperkings, wemel dit deesdae van die ‘niemand onder 18 nie’-flieks. (Onthou jy nog toe dit niemand onder 21 was?!)

Onward is kindervriendelik tot die mag drie en sal kindergesiggies ophelder so tussen die soutbesmeerdes bekkies vol springmielies en die slush puppies wat hul ogies sal laat traan. Maar so van traan gepraat. Daar gebeur tog iets in Onward wat die ou heel kleintjies kan bevraagteken. Wat hulle selfs ongemaklike vrae kan laat vra, soos: “Mamma, wat beteken dit om dood te gaan?”

Onward begin met die oulikste twee elfieseuntjies wat die skok van hul lewens kry. Hul pa sterf en hul weduwee-ma moet vir hulle sorg. Gelukkig word die insident baie versag sodat dit nie te veel sal onthuts nie. Die twee buksies kry dan ʼn towerstaf in die hande. Indien die regte edelsteen daarin geplaas word, kan hulle hul pa oproep en vir 24 uur afskeid neem van hom. Maar hul eksperiment loop skeef, en wel op ʼn komiese manier.

Hulle slaag daarin om hul pa op te wek, maar net sy onderste gedeelte tot bokant sy lyfband verskyn. Die arme pa kan dan niks sien nie en loop die hele tyd in voorwerpe vas. Saam met ʼn halwe pa moet die elfies dan na die edelsteen gaan soek wat ʼn volle gestalte aan die man gaan gee. Maar, soos Pa en Ma gewoond is in animasieflieks: daar is allerhande vreemde kreature wat struikelblokke in hul pad plaas. Onder andere ʼn soort skerpioen-draak-vrou wat darem nie so lelik is soos sy klink nie. Sy is eintlik baie snaaks.

Kinders leer na en in die fliek om hul ouers te waardeer, om geloof in hulleself te hê, maar ook geloof in die onmoontlike wat kan waar word. Dit behoort kinders nie te ontstel nie, want die Pixar-ateljees maak die storie toeganklik, grootliks vrolik en verduidelik ʼn sedelessie in gemaklike, gewone taal aan die gehoor.

Onward se beperking waarsku dat ouers die kleintjies moet vergesel. En buitendien, Pa en Ma kan mos ná die tyd mooi verduidelik waaroor dit eintlik gaan. Onward word aanbeveel.  (Filmfinity / Pixar)

Die fliek wys vanaf 6 Maart by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.