Leon van Nierop se fliekresensie: Poppie Nongena

Poppie Nongena    ****
Met Clementine Mosimane en Deon Nebulane
Regisseur: Christiaan Olwagen

Gehore weet reeds: wanneer Christiaan Olwagen ʼn rolprent maak (dink aan Kanarie en Johnny is nie Dood nie) laat dit wenkbroue lig en lei dit dikwels tot ernstige debat. Dieselfde geld sy rolprentweergawe van Die Swerfjare van Poppie Nongena. Hierdie epiese roman is verkort tot ʼn rolprent van twee ure plus en is rateltaai en konfronterend. Wees net daarvan bewus: dit gaan oor politiek en takel die foute wat die apartheidsregering destyds gemaak het sonder skroom.

Dit is nie ʼn gemaklike vermaakrolprent nie, maar een wat jou dwing om te dink, wat tot introspeksie en selfondersoek lei, en wat die vraag vra: “Hoekom het mense nie geweet wat werklik destyds gebeur het nie? Moontlik as gevolg van staatsensuur?” Maar het dit gehelp om stil te bly? Die dae van stilbly is verby. Maar in hoe ʼn mate het dinge verander? Is daar vandag weer nuwe en ewe ernstige probleme?

Poppie Nongena gaan oor ʼn Xhosa-vrou, uitmuntend gespeel deur Clementine Mosimane, wat in die 70’s besef haar pas het verval, en wat meegedeel word dat sy na ʼn tuisland gestuur gaan word. Haar gesin skeur en sy beland in die middel van erge politieke geweld en brandstigting. Hoe oorleef sy?

Poppie Nongena bring hulde aan haar dapperheid, deursettingsvermoë en uiteindelike opstand. Dit is rof, moeilik, aangrypend, dikwels gewelddadig maar uiteindelik inspirerend.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Stof ·

Dit laat ‘n dankbare sensasie om soveel talant saam te sien. Elke lid van die hele span wat hierdie rolprent moontlik gemaak het, het voorwaar uitgeblink. Doet zo voort!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.