Leon van Nierop se resensie: 7500

7500     ****
Met Joseph Gordon-Levitt en Omid Memar
Regisseur: Patrick Vollrath

ʼn Storie wat net in ʼn vliegtuig se stuurkajuit afspeel? Hu? Is jy ernstig, bru? Kan dit regtig werk? Wel, ja! Indien die kinematograaf allerlei slu tinteltoertjies uithaal, elke paar sekondes van perspektief verander en Joseph Gordon-Levitt sy weerloosheid na dapperheid kan oorskakel en meer as nege beangste uitdrukkings binne ʼn sekonde kan plooi.

Sonder om te veel te verklap: 7500 (Seven Five Dubbel zero) is die kodewoord vir terrorisme of kaping. Joseph slaag net betyds daarin om daardie woorde deur ʼn toegedrukte keel te uiter voordat die duiwel hom bloots ry. Die stuurkajuit raak net so skrikwekkend benouend soos die kamer in die eerste Saw (2004). Vermy sy soveelste vervolg, die grusame Spiral (2021) egter ten alle koste.

Die hoogspanningsdraadtoertjies wat die regisseur in hierdie rolprent uithaal, is baie gruweliker as die hele A Quiet Place Part II saam. Jy sal jou bietjies-bietjies in ʼn ander bloedgroep skrik en agterkom: daardie naels wat jy hoor kraak, is jou eie wat afgebyt word.

Al probleem is: Die rolprent is op Amazon Prime Video. Dus het nie almal toegang tot hierdie netwerk nie, alhoewel navorsing bewys het dat dit die gewildste stromingsplatform naas Netflix en Showmax is.

Maar as jy ʼn vlieënier is, of jy is bang om te vlieg, skuif saam met die jong Tobias Ellis in die stuurkajuit in en flankeer met een van die lugwaardinne. Jy sal jou (fliek-)heiland leer ken! Sterk aanbeveel.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Henryet ·

Vir wat wil iemand iets kyk wat hulle bang maak? Nee aarde tog !!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.