Leon van Nierop se resensie: A Quiet Place Part II

A Quiet Place Part II     ***
Met Emily Blunt en Millicent Simmons
Regisseur: John Krasinski

Moenie dat die lighartige eerste bofbal-en-appel-tonele in A Quiet Place Part II jou in sneesdoekies toedraai en mislei nie. Want die rolprent is volgens ʼn resep so oud soos film self gemaak. Hitchcock het altyd gesê: “Ek hoef jou nie bang te maak nie, jou verbeelding doen dit vir jou.” En regisseur John Krasinski volg die resep slaafs na, alhoewel sonder die briljantheid van die ou groot boepens-genie.

Hy het ook teen sy neus af gelag: Stel die gehoor gerus, want hulle weet wat om te verwag! En dis wat hier belangrik is. Die gehoor gaan terug na die bekende gemaksone-gruwelkasteel, want hulle wil weer bang raak vir klank, stilte, te ontsenu wees om te hoes, en elke geluidjie met agterdog te bejeën. Nog nooit het so baie springmielies van skote afgeval soos in hierdie fliek se voorganger nie.

Soos tevore gaan die rolprent oor grieselrige monster-gedrogte wat klanksensitief is. As ʼn slagoffer dus keelskoonmaak, hoor die grieselgeeste dit en verorber die arme siel. ʼn Groot gedeelte van die fliek speel dus in doodse stilte af, want die dogter van die Emily Blunt-hoofkarakter, uitstekend gespeel deur Millicent Simmons, is doof. Met ander woorde, klank het hier ʼn dubbeldooreffek. Maar ai, ons het al te dikwels voete gesien wat noukeurig-versigtig deur die duwweltjies loop en fluisterstemme wat waarskuwings prewel, net om die hoofmaaltyd van die monster te word.

Jy voel dus jy het dit al vantevore gesien, net beter. As ʼn mens twee keer boe! sê skrik jy dalk vir die tweede kreet, maar by nommer 4 gaap jy die boe! tot in vergetelheid. Alhoewel nooit vervelig nie, is die gebruik van stilte en ledemate wat ligweg knetter-en-kraak en beweeg baie effektief, daarom kan jy tog gaan kyk. Maar dit wys net in teaters.

Jy kan dit nie op jou plasmaskerm bekyk nie, sodat jy tjips kan verorber en kort-kort badkamer toe hol as die nood druk nie. Jy moet knyp, boeta! Jy word ʼn gevangene van die warmbraksirkus. Medium-effektief en soms uittartend belowend, maar selde gruwelgil skokkend. En jy kan monstervoer, dus karakters wat bloot geskep is om opgevreet te word, sommer vroeg identifiseer, sodat jy die bottel tamatiesous en tjips op die regte oomblik gereed vir die monsters kan hou. Slegs in teaters.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

 

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Hy het 'n Akademie Erepenning ontvang vir sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprentbedryf, Daar doer in die fliek. Sy jongste boek Bloedsuier is op die rakke en hy skryf tans aan 'n nuwe roman. Sy vorige twee romans, Katelknaap (vertaal as Toy Boy) is in 2018 uitgegee. Hy skryf ook aan Maroela se radiodrama wat binnekort die lig sien, Briekaandraai,

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.