Leon van Nierop se resensie: After the Wedding

After the Wedding ***
Met Julianne Moore en Michelle Williams
Regisseur: Bart Freundlich

Terwyl die manne, en ʼn paar wilde meisies, hulle verlustig in Quintin Tarantino se aanskoulike geweldorgie, begin daar ook ʼn intieme kunsrolprent met haar oog stewig op vroue. Maar ʼn storie wat die hartsnare kon gekielie en rondgeskommel het, ly gedeeltelik onder ʼn melodramatiese sepiestyl wat die tema vervlak.

Ou verwyte, ʼn geheim wat karakters uitmekaar ruk en ʼn huwelikseremonie wat ʼn woord-geweer op die bruilofspaartjie ooptrek, is kenmerkend van hierdie onderspeelde, maar uiteindelik troebel drama.

ʼn Vrou wat in Indië vir straatkinders sorg (sy het een van die seuntjies eintlik aangeneem), gespeel deur Michelle Williams, word gedwing om New York toe te vlieg om ʼn verwaande en befoeterde sakevrou (Julianne Moore) te oortuig om verder in haar skool te belê. Maar die vrou uit Indië loop haar in ʼn drama vas wat sy nie verwag het nie, en waarvan ʼn mens nie hier te veel wil verklap nie.

Hoekom dan nog drie sterre? Want die spel van die formidabele Michelle Williams verhef die rolprent beslis. Een kyk van Williams, een verwonde uitbarsting en die duisend-tree-staar van ʼn vrou wat nie die waarheid kan verwerk nie, is die prys van ʼn toegangskaartjie werd. Vroue, veral dié wat van sepies hou, sal volkome identifiseer en aanklank vind by hierdie redelik verglansde drama. Maar Michelle Williams speel so ʼn barshou, dat ʼn mens eintlik net vir haar gaan kyk.

Aanbeveel vir kunsrolprentaanhangers.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.