Leon van Nierop se resensie: Ambulance

Ambulance    *
Met Jake Gyllenhaal en Eliza González
Regisseur: Michael Bay

Ja, ek weet April wemel van vakansiedae, en vir diegene wat nie die hoë brandstofprys kan bekostig nie, behoort daar darem seker ʼn fliek of wat te wees om jou tuis te hou? Ambulance lyk aanvanklik na ʼn lekker skiet-skop-en-doodbloei-fliek vol skietpiete wat weet hoe om ʼn wapen te gebruik, maar eintlik gaan dit oor motors wat deur die lug tuimel, manne vol testosteroon wat op mekaar skree, bankrooftogte, ontploffings, skreeuende motorbande en mense wat skree van pyn.

Is dit jou idee van vermaak? Sommige manne sal dalk instemmend knik en toegee dat hulle voor ʼn lekker braai na ʼn aksiefliek in ʼn teater wil gaan kyk. Maar hierdie Jake Gyllenhaal-film is so vergesog, jy sal oogdruppels benodig. Dit kom uit die stal van die aksie-veslaafde Michael Bay wat net jaagtogte en motors wat verongeluk verfilm vir die blote pret daarvan. Hy kry lekker as motors rol. Maar van ʼn storie is daar min sprake.

Die bietjie wat daar is gaan oor ʼn bankrower (Gyllenhaal) wat met miljoene dollar se buit in ʼn ambulans vlug. Maar agterin is ʼn sterwende polisieman en ʼn paramedikus wat hom aan die lewe probeer hou. En dan die ambulansdrywer wat vinniger as enige renjaer op twee wiele om ʼn draai jaag. Verder gaan daar nie veel aan nie. Met die prys van ʼn fliekkaartjie deesdae sou ek twee keer dink oor Ambulance. Dis verbysterend vergesog en onlogies.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.