Leon van Nierop se resensie: American Animals

American Animals    **** (8/10)
Met Evan Peters en Barry Keoghan
Regisseur: Bart Layton

Maak jou gereed vir die verrassing van die jaar. Saam met Hereditary en A Quiet Place, alhoewel dit natuurlik in ʼn ander genre val, is American Animals so vermetel en oorspronklik, dat jy jou eie oë beswaarlik sal glo. Want dit is ʼn hervertelling van die waarheid. Wat die rolprent verder opspraakwekkend maak, is omdat die werklike diewe bykomende kommentaar lewer op wat die akteurs doen wanneer hulle die diefstal rekonstrueer. Daar sien jy hoe goed die rolverdeling is, en besef jy dat elke woord waar is.

Dit gaan oor vier jong manne (baie mense sou hulle idiotiese diewe noem!) wat ʼn waagmoedige roof beplan. Een van die outjies, die uitstekende Barry Keoghan, raak bewus van ʼn versameling skaars boeke in die universiteitsbiblioteek. Hy en drie ander vriende besluit dan om die boeke te roof. Maar hoe berei hulle voor? Deur na fiksie-diefstalfilms te kyk en met die naïwiteit van kleuters te beplan hoe hulle die boeke gaan beroof! Hulle vergeet natuurlik dat hulle ook met ʼn formidabele en toegewyde bibliotekaresse, The Handmaid’s Tale se Ann Down te doen het.

Die diefstal is so pateties, ʼn mens se mond hang oop. Enersyds is dit snaaks, maar op ʼn donker-komiese manier, en andersyds is dit hartseer dat vier jong manne die spoor so dramaties kan byster raak! Jy sal lag, jou kop skud, verstom na die persoon langs jou staar en later vra: “Is dit regtig waar?”

Onthou net, dit is ʼn eksperimentele rolprent wat in ʼn sekere opwindende en vernuwende styl gemaak is met slim redigering, dus neem dit ʼn rukkie om by die styl aan te pas en “in” die rolprent te kom. Maar as jy jouself eers oorgegee het, sal jy dikwels na jou asem snak.

Aanbeveel vir mense wat na rolprente met ʼn hoër I.K. as die gewone soek.

American Animals wys nou by SterKinekor en NuMetro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.