Leon van Nierop se resensie: Ava

Ava
Met Jessica Chastain en Colin Farrel
Regisseur: Tate Taylor

As Tenet jou deurmekaarder gemaak het as roereier in ʼn tuimeldroër, verdien jy ʼn rolprent wat gemakliker op die oog val, al is dit bitter gewelddadig.

Jessica Chastain lyk op die oog af na ʼn lieftallige, oulike poppie met die mooiste bene sedert jy ʼn meisie vanoggend in die gimnasium gesien het (of “uitgecheck” het soos die manne sê), maar daar skuil ʼn sluipmoordenaar onder al daardie dik grimering en kuifie-regop-wiphare wat so sexy oor haar oë tuimel.

Sy het al talle mense vermoor, want sien, sy is ʼn sluipskutter. Maar sy is ook ʼn mens. Natuurlik wil ʼn meisie bietjie gesels ook, al is dit dan met haar (dikwels aantreklike) slagoffers, en dis waar sy die fout maak. Sy word dan deur haar eie base gejag, dus moet sy nie net mense uit die weg ruim nie, sy moet ook vir haar lewe vlug.

Maar ai, daardie soepel selderystingel-bene wat sulke raakvathoue kan skop dat manne om genade pleit en toehou terwyl hulle vashou. Hierdie aksietonele voltrek gemaklik in die aksie-tradisie en is niks beters of erger as wat jy al tevore op die silwerdoek meegemaak het nie. Jy sal Ava dus met gereelde skokke (dit voel of sy jou raakklits!) gedurende haar hoogskop-manewales geniet. En al is dit net om bietjie van jou plasmaskerm weg te kom, gaan kuier vir hierdie taai meisie, maar (soos Colin Farrell agterkom!) bly uit haar bene se pad!

Gemaklike maar wrede aksievermaak.

Die fliek wys by Ster-Kinekor en Nu-Metro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Rose ·

Die trailer gee die hele fliek weg. Selle storielyn, net ander karakters. Hollywood het ook die knie gebuig.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.