Leon van Nierop se resensie: Avengers: Endgame

AVENGERS: ENDGAME **** (8/10)
Met Sebastian Stan en Chris Hemsworth
Regisseurs: Anthony Russo en Joe Russo

Jy het seker iewers op een van Pluto se mane vakansie gehou as jy nog nie weet dat hierdie ruimte-opera die grootste geldverdiener in die geskiedenis van die rolprentbedryf is nie. Maar die grootste verrassing is dat dit selfs by Cinema Nouveau, op sy dag die kroonprins van kunsfilms, gewys het. Dalk het dit daar gewys om die kuns van geldmaak te weerspieël!

Genoeg om te weet dat feitlik elke Marvel-held en heldin in hierdie uitspattige, peperduur afsluiting van die ruimtefamilie se eskapades voorkom. Die klem val egter aanvanklik veral op Iron Man, Thor, Natasha en Captain America se plan, saam met ʼn maagseerlag Ant Man en The Hulk, om die bose Thanos te uitoorlê. In die vorige rolprent, Avengers: Infinity War (2018) het ʼn klomp Avengers mos lepel in die dak gesteek. “Ja, reg!” hoor ek jou grinnik. “Asof Marvel daardie goue kalwe sou opoffer!” Kyk maar wat gebeur.

Hier is geen weggee-spoiler-oomblikke in hierdie resensie nie, behalwe om te sê dat ware Avengers-dissipels moontlik sal dink dit is 10/10 werd. Dit is bietjie te lank (3 ure, moet dus nie te veel vloeistof drink voor jy gaan kyk nie, want jy sal oor hordes ongeduldige voete moet struikel om jou blaas te verlig!) en bespreek voor die tyd. Elke vertoning is glo uitverkoop. ʼn Moet vir Avengers-verslaafdes. Noodsaaklike fliekhuiswerk as jy wil saampraat, selfs al kan jy nie vir Dr. Strange van Captain Marvel onderskei nie!

Die fliek wys binnekort by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.