Leon van Nierop se resensie: Bohemian Rhapsody

Bohemian Rhapsody   **** (8/10)
Met Rami Malek en Lucy Boynton
Regisseur: Bryan Singer

Een ding is verseker: Jy moet hierdie luidrugtige rolprent verkieslik in die luukse van Scene X-treme-teaters met Dolby Atmos en Ultra HD-klank kyk. Of Imax-teaters. Dit is die naaste wat jy ooit aan ʼn Queen-rockkonsert op die verhoog sal kom waar jy meedoen aan die aksie en op die verhoog beland.

Ek was bevoorreg genoeg om Freddie Mercury en Queen destyds te sien optree en die rolprent laat reg geskied aan daardie elektriese optredes.

ʼn Mens was altyd bewus van die gerugte oor die talentvolle sanger wat in verskeie oktawe kon sing, en die fluisteringe oor sy biseksualiteit en dwelmmisbruik. Die rolprent beeld dit uit, en dit is die enigste plek waar ʼn mens dit bietjie kan kritiseer. Dit spring baie ligtelik oor sy aanvaarding van die feit dat hy eintlik gay was en sy promiskue optrede, asook sy liefde vir dwelms. Maar die rolprent kom ook dikwels by die mens agter die snor en uitstaan-tande uit. Dit bring boonop hulde aan sy “verhouding” (of vriendskap) met Mary Austin, pragtig gespeel deur Lucy Boynton wat geduldig en vol liefde was en hom in ʼn mate gehelp het om staande te bly. So ook Gwilym Lee as die ikoniese Brian May wat so ʼn bepalende invloed op sy loopbaan gehad het.

Maar die ware ster is Rami Malek as Freddie. Met flambojante bewegings, kleurvolle manewales, uitstekende lip-gesinchroniseerde sang en noukeurige aandag aan Mercury se uitspattige verhoogoptredes, herleef ons die popster se grootste oomblikke, veral gedurende die Live Aid-konsert. Dit is omtrent ʼn belewenis. Die fliek beeld ook uit hoe baie van sy grootste treffers (met die hulp van sy mede-orkeslede) ontstaan het. “We Will Rock You” sal hierna nooit weer dieselfde wees nie.

Wees daarop voorberei dat enkele tonele jou kan skok, alhoewel dit darem amper 2019 is. ʼn Mens is mos deesdae gewoond aan sogenaamde “veelbesproke” gebeure en optredes en tonele. Alhoewel die fliek in die middel ʼn effense insinking toon, is die laaste 15 minute van so ʼn aard dat jy beswaarlik in jou sitplek sal kan bly sit. Dit swiep jou op, sleur jou mee en rondomtalie jou. Aanbeveel as jy oopkop dink en Freddie Mercury steeds een van jou popster-superhelde is.

Die fliek vertoon tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Karl ·

Een van die beste flieks nog! Het dit nou al 3keer gaan kyk, en Saterdag vir die 4de keer!

EQV ·

Gister gaan kyk by kolonade,,en toe word ons gestraf met loadshedding..woorde van woede het gevloei..maar wat ek gesien het behalwe die laaste 20 min was fantasties

Gys ·

Freddie was enig in sy soort. Ek was al by die huis in Stonetown in Zanzibar waar hy grootgeword het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.