Leon van Nierop se resensie: Breaking In

Breaking In *** (6/10)    
Met Gabrielle Union en Billy Burke
Regisseur: James McTeigue

Hier is ʼn ou-ou storie wat in splinternuwe klere aangetrek word. Die lessie wat hieruit geleer word, is die gewone: misdaad betaal nie (goed, waar het jy daardie een al tevore gehoor, gaap-gaap?) en ʼn ma sal enigiets doen om haar kinders te beskerm. Waarom dit dan steeds aanbeveel? Want dit verras tog soms.

ʼn Gesaghebbende vrou (Gabrielle Union) wat haar kinders ordentlik probeer grootmaak, is nie daarvan bewus dat haar pa eintlik ʼn misdadiger is nie. Wanneer sy en haar kinders eendag sy huis besoek kort ná sy dood, word hulle aangehou deur booswigte wat verbonde was aan haar pa. Die ma ontsnap, maar haar kinders is steeds binne die huis vasgekeer. Die rolprent handel dan oor hoe sy probeer om by haar pa se huis in te breek (in plaas van om uit te breek), en die storie word met ʼn koel houding en deur middel van boeiende regie oorgedra.

Dit is geen grootse werk nie, maar jy behoort telkens jou asem in te trek as jy sien waarmee die ma alles vorendag kom om te probeer inbreek (daar is natuurlik ʼn stewige veiligheidsisteem) en hoe sy die skurke uitoorlê. Maar een of ander tyd vang slim sy baas.

Die rolprent het verbasend goed by die loket gevaar ten spyte van sommige resensies wat negatief was, maar tog, as ʼn stukkie vermaak wanneer jy net lus het om van jou verkoue te probeer vergeet en uit te gaan sonder dat jou breinselle oorwerk word, is hierdie drama redelik in die kol. Goeie spel, veral van Gabrielle Union, en selfs van die ouens wat die gruwelike skurke speel, sal jou tot aan die einde boei.

Kunsmatige maar professionele vermaak as jy genoeg van oerdiere gehad het.

Breaking In wys nou by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.