Leon van Nierop se resensie: Breathe

Met Andrew Garfield en Claire Foy
Regisseur: Andy Serkis

Jy kan maar weet: As Hollywood besluit om ʼn ware verhaal oor oorlewing te verfilm, gaan dit taai, emosioneel en moeilik wees, maar jy kan maar R70 daarvoor uithaal, afhangende hoe maer jou beursie is as jy in die ry staan!

Breathe is die tragiese maar bemoedigende ware verhaal van Robin Cavendish (Andrew Garfield) wat op 30-jarige ouderdom polio opgedoen het. Hy raak heeltemal verlam. Maar wat die verhaal so inspirerend maak, is hoe sy waagmoedige en dapper vrou, die briljante Claire Foy as Diana, hom vir die res van sy lewe bygestaan het. Sy het ook saam met medici gewerk om ʼn spesiale rystoel te ontwerp wat Robin se lewe meer draaglik gemaak het.

Dit is ʼn onbeskaamde, bewonderende huldeblyk veral aan weergalose liefde.  As jy al ooit twee mense gesien het wat onvoorwaardelik en onselfsugtig lief was vir mekaar, is dit hierdie twee. Die rolprent raak nooit selfbejammerend nie. Nog minder is dit “haai siestog” of verskonend of manipulerend. Dit wys ʼn situasie soos dit gebeur het sonder skroom, oormatige melodrama en persgetinte dialoog of prekerigheid. Die menslikheid van die karakters rondom Robin straal uit, en natuurlik speel Andrew Garfield vir 80% van die rolprent net met sy oë en gesig. Wat ʼn uitdaging!

Die film raak nooit staties nie, nog minder voel jy ongemaklik. Die storie boei enduit en vra jou om nie net begrip te toon vir die slagoffers van so ʼn tragiese gebeurtenis nie (wat mannemoed geveg het om te aanvaar), maar vir sy vriende, familie en veral sy vrou wat dit ook aanvaar het en hom sonder skroom ondersteun het. Vroue sal moontlik ʼn staande applous aan die einde gee. Indien jy nie opstaan vir die aktrise en die werklike vrou nie, sal jy ʼn ovasie in jou gemoed gee.

Uitmuntend en sterk aanbeveel.

Breathe begin op 19 Januarie 2018 landswyd in teaters draai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.