Leon van Nierop se resensie: Charming

Charming   *** (6/10)
Met die stemme van Demi Lovato en Wilder Valderama
Regisseur: Ross Venokur

Daar is gedurende die langnaweek twee rolprente met animasiekarakters om uit te kies vir ouers wat die volgende woorde nie meer kan verduur nie: “Ma-a-a-a! Pa-a-a-a! Ek is verveeld!”

Die eerste is Christopher Robin wat handel oor die seun van die skepper van die Winnie the Pooh-beertjie, A.A.Milne. Christopher Robin word as volwassene gespeel deur Ewan McGregor wat tydens ʼn erge krisis in sy lewe met die pratende beertjie kennis maak wat in animasievorm in sy lewe voorkom en hom terugvat na sy kinderlewe.

Die ander is Charming, dié slag met volledige animasie, dus nie ʼn kombinasie van werklike mense en animasiekarakters soos in Christopher Robin nie, wat handel oor die aantreklikste prins in die land. Natuurlik is hy só mooi, dat selfs die blomme skaam word vir hul blommeprag en hul stuifmeeldrade vir hom buig.

Soos te verstane, is al die meisies in die distrik agter hom aan, onder andere ʼn ondeunde hubare meisie wat net agter sy geld aan is. Die probleem is dat die prins telkens vir meisies vra om met hom te trou. (Dit is ʼn vloek wat oor hom uitgespreek is as kind, sien?) Die probleem is dat daar nou vele meisies is wie se harte gebreek is en wat wil wraak neem op hom.

Uit hierdie opsomming moet dit duidelik vir ouers blyk dat die ou heel kleintjies, en selfs kinders tot om en by 15 hiervan behoort te hou. Niks gaan so goed met springmielies af as ʼn animasiekomedie met fraai tekeninge nie. Die tekeninge is darem nie heeltemal so rekenaargevorderd soos wat ʼn mens deesdae teëkom nie. Maar die verskil is dat ouers ook hiervan sal hou, aangesien hulle die subteks sal raaksien. Liefde is nie iets om mee te speel nie, en ʼn mens moenie ʼn vrou verkeerd opvryf nie!

Gesinsvermaak waar kleuters die botoon voer en die versnaperings net so belangrik is as die vrolike gebeure op die skerm! – dis waaroor Charming handel. Die naaste vorm van geweld is wanneer die gebrokehart-meisies animasiewraak op die prins wil neem, en hy vir sy wiekets moet keer…

Charming wys vanaf 9 Augustus by SterKinekor en NuMetro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.