Leon van Nierop se resensie: Downsizing

DOWNSIZING    5/10     (**)
Met Matt Damon en Kristin Wiig
Regisseur: Alexander Payne

Vandeesmaand gaan maar mank aan rolprente wat net op vermaak ingestel is as jy slegs een maal per maand in die fliek kom en net wil ontspan. Tomb Raider, wat met die ter perse gaan nog nie aan resensente vertoon is nie, en wat met die pragtige Alicia Vikander in die rol van Lara Craft spog wat tevore deur Angelina Jolie gespeel is, val dalk in hierdie kategorie.

Tweede keuse mag dalk die Matt Damon-satire wees wat handel oor mense wat hulleself kan verklein. Hoekom? Want dit gaan die voortbestaan van die planeet verseker, en op dié manier neem hulle minder plek in, want hulle is maar net ʼn paar sentimeter groot, hul geld is meer werd en ander wette geld glo in die kamma-kamma nuwe wêreld as in ons wrede aardse wêreld. Maar is dit regtig soveel anders? Want terwyl liggame kleiner word, bly persoonlikhede, vooroordele en ander giere presies dieselfde.

Natuurlik vra ʼn mens nie vir volkome realisme in ʼn satire wat op ʼn skerp, ontledende en bytende wyse na die werklikheid kyk nie, maar in hierdie geval word die swart komedie te ver gevoer.

Die rolprent neig om een ding te belowe, maar aan die einde iets heeltemal anders te gee. Niks daarmee verkeerd om verras te word nie, maar die gehoor kry nie vatplek aan die klein heldjie nie, selfs al speel Matt Damon hom.

Die tragedie wat hom uiteindelik tref raak jou nie, terwyl daar min gemaak word met die klein wêreldjie teenoor die reuse-groot wêreld wat ons ken, al spot dit met die menslike vernietigingsdrang wat orals dieselfde is, en gewoontes en gemaksones wat maar altyd ooreenstem, in watter wêreld die karakters ook al is.

Moenie Honey, I shrunk the kids verwag nie! Hierdie galgehumor-rolprent doen die presiese teenoorgestelde, en is nie naastenby so goed soos hy dink hy is nie. Onsuksesvol.

Downsizing begin op 9 Maart by Ster-Kinekor en Nu Metro-teaters landswyd.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.