Leon van Nierop se resensie: Dumbo

Dumbo ***  (6/20)
Met Colin Farrell en Eva Green
Regisseur: Tim Burton

Dit is ʼn moeilike en taai tameletjie hierdie. Alhoewel die bekende storie kinders kan inspireer en lesse kan leer, is dit dikwels ʼn bietjie donker en selfs langdradig (traumaties?) vir hulle, terwyl ouers dalk meer baat hierby mag vind as springmielie-etende pikkies. Dit is ʼn lewende-aksie weergawe van die klassieke Disney-tekenprent van 1941 oor ʼn dierbare, oulike dog hartseer klein olifantjie wat in ʼn sirkus gebore word in gevangenskap. Wat maak hom so anders as talle ander ongelukkige reuse in die sirkus? Hy het ore so groot soos ʼn ossewa se wawiele.

In die nuwe weergawe is die atmosfeer beklemmend, neuroties en melancholies – natuurlik om te weerspieël dat g’n mens die reg het om diere in ʼn sirkus te mishandel nie. Maar dit is moeilik om so ʼn storie “vermaaklik” te maak. In die Disney-ateljees se hande is dit natuurlik kommersieel en spog met twee kinders as hoofkarakters, maar Dumbo kruip nie in ʼn mens se hart nie, terwyl baie van die menslike karakters nie heeltemal as vlees en bloed mense registreer nie. Dit beteken nie dat ouers nie hul kroos hoef te vat nie, veral noudat die skoolvakansie verby is (en Paasfees besige gedagtes moet boei), maar die trefkrag is beperk, en al doen dit hoe goed by die loket, die fliek se trefkrag is twyfelagtig. Net vir Tim Burton-bewonderaars.

Die fliek vertoon tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Leonie ·

Ja nee werklik! Ek en my gesin het dit terdee geniet en Dumbo het wel dadelik in ons harte gekruip. Ek moet ook by se dat smaak verskil en ek het al geleer, as Meneer van Nierop nie van n film hou nie is die kanse 99.9999% dat ek mal daaroor gaan wees. My smaak is seker maar nie gesofistikeerd genoeg nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.