Leon van Nierop se resensie: Ellen – Die Ellen Pakkies storie

Ellen: Die Ellen Pakkies storie ***** 10/10    
Met Jill Levenberg en Jarrid Geduld
Regisseur: Daryn Joshua

Hierdie is ʼn lewensveranderende rolprent. Dit word so oortuigend en meelewend vertel, dat ʼn mens voel of die waarheid jou in die maag skop en jou vra of jy dan regtig nie geweet het van hierdie probleem nie.

Dit is ʼn aanklag teen onbetrokkenheid, teen sosiale probleme wat maar net altyd onder die mat gevee word, teen dwelmmisbruik en die wyse waarop dit gesinne vernietig. Maar dit is ook ʼn huldeblyk aan ouerliefde.

Meeste mense ken die sensasionele koerantopskrifte van destyds toe Ellen Pakkies van Lavender Hill haarself aan die polisie gaan oorgee het nadat sy haar seun, wat aan tik verslaaf was, vermoor het. Hierdie rolprent verduidelik nie net wat haar daartoe gedryf het nie, maar skud die gemeenskap en owerhede ook wakker oor gruwelike verwaarlosing en die ignorering van ʼn maatskaplike probleem waar ʼn ma alle uitweë probeer het, maar telkens teruggestuur is na ʼn ander plek. Uiteindelik knak sy en is die moord wat sy pleeg meer uit liefde, en as ʼn verlossingsdaad van iemand wat dit nie meer kon vat nie, as wat dit ʼn sensasionele moord is. Net nog een van die vele wat daagliks in daardie gemeenskap plaasvind.

Jill Levenberg is bekroon vir haar uitmuntende en simpatieke, ongeaffekteerde spel as Ellen Pakkies, maar Jarrid Geduld as haar besete seun, en veral Ilse Klink as die regter wat die saak aanhoor, en Clint Brink as die advokaat wat Ellen kosteloos help, moet ook uitgesonder word.

Dit is ʼn taai, brawe en emosioneel uitmergelende rolprent. Maar wat jy sien is wáár. Hier is geen aangeplakte realisme of elemente wat bygelieg word nie. Jy kyk na iets wat werklik gebeur het en wat met gesag, oortuiging en toewyding aangebied word. Daryne Joshua het ʼn rolprent gemaak wat internasionaal gewys kan word as ʼn hulpkreet teen onregverdigheid en ʼn sisteem wat sy mense en slagoffers gefaal het.

Dit sal jou tande uitskop. Maar dis nodig. Sekere stories en mense moet van geweet word. En Ellen Pakkies verdien om gehoor te word. Uitmuntend.

Ellen: Die Ellen Pakkies-storie wys vanaf 6 September by SterKinekor en vanaf 7 September by NuMetro.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Nicolene ·

WOW- Wonderlik, wag al lank dat dit in die flieks moet kom en ek hoop vinnig op die dvd’s by video winkels ook beskikbaar te wees. DUS ‘N MOET KYK – sodat almal kan bewus gemaak raak, want dit kan met enige een gebeur en mense verstaan nie as hul nie self in soortgelyke situasies al was nie. En met vandag se tyd met jong kinders, hierdie is vir almal in eye opener.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.