Leon van Nierop se resensie: Emily in Paris

Emily in Paris ***
Met Lilly Collins en Lucas Bravo
Skepper: Darren Starr

Erken dit maar! As jy deur 2020 geworstel het en die depressie wil nie die wyk neem nie, is daar geen beter reeks om jou in ʼn sonneblombui te sit as Netflix se Emily in Paris nie. Die storie is eenvoudiger as Ouma se melktertresep.

ʼn Pragtige meisie uit Chicago, gespeel deur ʼn meisiekind wat mooier as ʼn roos is, Lily Collins, word na ʼn parfuummaatskappy in Parys gestuur om te help met bemarking. Maar soos enigiemand wat pre-Covid die voorreg gehad het om in Parys se swetterjoel-en-rondomtalie te draai, sal sug: “Pragtige stad, net jammer van die verwaande, onvriendelike mense.” Dit wil sê, as jy nie kan Frans praat nie.

Dis waarteen die skone Emily haar vasloop wanneer die maatskappy waar sy werk haar behandel asof sy ʼn tor in dreinwater is. Maar gelukkig praat die manne die universele taal, en sy laat baie manlike koppe daai, alhoewel sy nie promisku is nie. En Lucas Bravo, wat in dieselfde gebou as sy woon, val so sag op die oog soos fluweel op ʼn wolk. Daarom is daar vinnige romantiese vonke. Maar die ster is eintlik die stad. En Bravo se oë waarin menige vrou sal verdrink.

Sal Emily Parys oorleef, of sal Parys Emily oorleef? Die reeks kom uit dieselfde stal as Sex and the City, maar is nie naastenby so katterig of seksueel-voortgedrewe nie. Dis die bitsige Franse teenoor die sonneblompie wat nie toelaat dat iemand haar blare deurmekaarkrap nie! En die kombinasie, met sy grapperigheid (die reeks spot lekker met die narsistiese Franse) sal jou vir ʼn glybaan-lekker 30 minute van al die drama en gruwels wat die wêreld tans in ʼn grendelgreep het laat vergeet.

Skop jou skoene uit, trek jou lekkerste pakkie skyfies met indoopsous nader en draf giggelend in Parys se strate saam met die fraaie Emily rond, want niks kry haar onder nie.

Sterk aanbeveel, en daar is tot dusver (episode 5) niks wat kan aanstoot gee nie. Vrolik op Netflix.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Net ek ·

Stem heeltemal saam met Leon van Nierop. Ons het hierdie reeks gekyk op Netflix, dis regtig vreeslik oulik en snaaks. Sal dit enige dag sterk aanbeveel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.