Leon van Nierop se resensie: Fast & Furious: Hobbs & Shaw

Fast & Furious: Hobbs & Shaw ***   7/10
Met Dwayne Johnson en Jason Statham
Regisseur: David Leitch

Ons praat nou nie hier van Oscars nie. Ek hoor jou lag. Lank en lekker.

Maar op ʼn ernstige noot. As iemand vir ʼn Oscar in hierdie skiet-skop-en-doodbloei-fliek kwalifiseer, is dit die waaghalse. Daar was verlede jaar sprake dat ʼn Oscar geskep gaan word vir beste waaghalstoertjies, maar daar was soveel teenstand, dat die voorstel vinniger laat vaar is as wat padreëls deesdae op ons paaie verdamp.

En tog: die manne en vroue wat hierdie fliek se onwerklik-realistiese waaghalstoertjies uitvoer moet geloof word, want dinge gebeur wat ʼn mens se asem wegslaan. Sonder die waagkunstenaars was daar nie ʼn Fast & Furious nie. Want, wees nou maar eerlik: jy gaan kyk regtig nie vir die storie nie. En enigiemand wat bekommerd is oor die twee testosteroon-besmette helde se welstand kan maar vanaand rustig gaan slaap. (En hier is geen spoiler alerts nie.) Geen regdenkende vervaardiger of draaiboekskrywer sal die helde uit die weg ruim nie, want ʼn vervolg word reeds beplan.

Nou hoekom dan nog gaan kyk? Om te luister na die kwinkslae wat so glad oor die rolprentskerm gly soos ʼn sportmotor wat pas geolie is. Hobbs en Shaw (Jason Statham en Dwayne Johnson) haat dit natuurlik om van mekaar te hou, en die eerste keer wat hulle vir mekaar glimlag én dit bedoel, is aan die einde van ʼn titaniese geveg op Samoa. Want hier vloei meer testosteroon as gedurende ʼn rugbywedstryd op Nuweland.

Vir diegene wat belangstel: die lemmetjiedun-storie gaan oor ʼn polisieman (die Amerikaners noem hom ʼn lawman) en ʼn buitestander wat kragte saamsnoer om die wêreld van (gaap-gaap) ʼn dodelike virus te red. Al verskil tussen hierdie en miljuisende ander superheldstories is dat ʼn pragtige vrou, (Vanessa Kirby) ʼn virus met haar saamdra. Voeg daarby ʼn roekelose en macho-aantreklike robot, gespeel deur Idris Elba, en die tafel is gedek vir ʼn feesmaal van aksie, ontploffings, jaagtogte, gevegte, vuisslanery en koelbloedige moordkyke in vyandiggesinde oë.

Jy is dus in die prentjie. Hierdie uitspattige, verwoestende en resepmatige aksiefliek stel net in een ding belang: jou beursie. Neem ten minste twee bokse springmielies saam. Een sal nie genoeg wees nie.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.