Leon van Nierop se resensie: Fate: The Winx Saga

Fate: The Winx Saga    ***
Met Abigail Cowen en Precious Mustapha
Skeppers: Brian Young en Iginio Straffi

En daar sit jou tiener, so verveeld soos ʼn stukkie kougom onderaan ʼn tekkie – weet nie wat om te doen nie. Hy het al na alles op Showmax en Netflix gekyk, en moet tog nie Bridgerton voor Ouboet noem nie. Kleinsus het dit reeds vier keer gesien en hy gril vir al die aansittery. Is daar darem iets wat na jeug ruik, wat ʼn fantasie-element bevat en waar towerwoorde geprewel word? Met ander woorde Harry Potter Lite?

Dan het jy jou reeks gekry! Fate: The Winx Saga (maak nou bietjie sin uit daardie titel) gaan oor ʼn groep meisies wat in ʼn towerskool beland. Sou die skool deur hekse beheer word? Is die dogters eintlik feetjies? Het hulle spesiale kragte? En watter feetjie gaan watter kragte op die vleispaleis met die blonde hare gebruik?

Dan is daar die wrede bos daarbuite. Daar bly een of ander kreatuur wat net die vroulike skoolhoof kan beheer en geen meisie mag deur die bos-membraan dieper die woud in waag nie. Maar natuurlik sal die heldin Abigail Cowen as Bloom dit probeer! En dan gebeur allerlei vreemde dinge wat ouboet en kleinsus sal verstaan om hul Harry Potter-lus te stil en weer terug te verlang na die dae toe Hermione vrolik rondgedartel het en Harry nog na sy bril gesoek het.

Ek sou nie aanraai dat ouers na Fate: The Winx Saga moet kyk nie. Hierdie resensent moes ʼn pen en papier gereed hou om daaruit sin te maak. Maar as die kleingoed om jou ore neul (seker die bó 12) mag hierdie reeks rekkies in hul vlegsels en bandjies in hul langhaarbollas, wat bo-op die koppe vasgemaak is, plaas. Net vir tieners. Beskikbaar op Netflix.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Jack Russ1 ·

Ek moet nogal sê dit is ‘n goeie ding dat smaak verskil. Ek het nogal van die reeks gehou, wag nou vir die volgende seisoen

Vlooitjie ·

Ek het ook daarvangehou, worth the watch as die tipe storie genre jou fing is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.