Five Feet Apart ***
Met Cole Sprouse en Haley Lu Richardson
Regisseur: Justin Baldoni
En jy dink die sosiale afstand wat jy deesdae van ander mense moet handhaaf is ongerieflik? (Het jy dit al in die gange van jou plaaslike kruidenierswinkel probeer?!) Hierdie 2019-rolprent was, op sy eie manier, profeties, maar niemand het hulle veel aan die “onmoontlike” en vergesogte storie gesteur nie, en dit het nie hond haaraf by die loket gemaak nie, ten spyte van die prentjiemooie romantiese paartjie wat die hoofrolle gespeel het.
En toe breek 2020 aan…
Twee jonges ly aan ʼn seldsame siekte, sistiese fibrose. Dit beteken hulle mag nie nader as 5 voet (die rolprent se titel) van mekaar af kom nie, want dit kan tot hul dood of nog erger simptome lei. Hoe kan ʼn mens verlief raak en nie eers aan mekaar raak nie? Maar nog erger: jy mag selde in dieselfde kamer as jou geliefde wees? Dit is die dilemma waarmee hierdie twee fraai mense sit. Natuurlik word hulle as engele in menslike gedaante uitgebeeld, en is hulle so beeldskoon, dat ʼn mens vir ʼn week lank nie weer na jouself in die spieël kan kyk nie, maar ai, die poetse wat die lewe verliefdes bak!
Maar julle ken tieners! Sal hulle gehoor gee aan die “vyf voet uitmekaar” reël in Amerikaanse terme en taal? Jy sal maar moet wag en sien. Maar die goeie nuus is: jou tiener kan met lus daarna kyk en jy hoef nie die ouerlike toesig-knoppie te aktiveer nie!
Soms effe eentonig, want hoe lank kan jy so ʼn storie dan ook nou soos ʼn woer-woer uitrek? Dis plesierige, dog baie hartseer vermaak. Ook op Netflix.
Hierdie is ‘n uitstekende fliek. Hou maar die snesies byderhand.