Leon van Nierop se resensie: Godzilla: King of the Monsters

Godzilla: King of Monsters   *    (3/10) 
Met Kyle Chandler en Vera Farmiga
Regisseur: Michael Dougherty

Vele lesers en luisteraars sal een kyk na die patetiese een-ster-gradering gee en uitroep: “Ag, wat weet jy van vermaak, knaap?” Dit is natuurlik hul goeie reg. Maar vergelyk ʼn mens dit met ander soortgelyke monsters-flieks, veral in die tradisie van Alien en die grieselgeeste waarteen die Avengers moes veg, is hierdie een omtrent so effektief as ʼn inkklad op kladpapier. Die rede? Omdat dit nie weet waar om op te hou nie!

Godzilla, oorspronklik deur die Japannese geskep, loop al ʼn ver en geliefde pad saam met gehore. Terloops, hy veg binnekort teen King Kong in 2020, en daar was ook ʼn lamlendige 2014-weergawe, maar ek onthou hom in die 1954-uitgawe toe die radio-aktiewe monster ʼn reusetreffer, veral in Japan, was. Dit het sedertdien meer vervolge gehad as daardie straatkat wat telkens in jou tuin kom kleintjies kry. Sommige nabootsings was treffend en selfs oorweldigend, ander, soos hierdie 2019-weergawe, ʼn oordadige en verstikkende vermorsing van die oorspronklike storie.

Dus het jy twee keuses: eerstens: as jy regtig ʼn kanniedood Godzilla-bewonderaar is, mag jy drie bokse vol springmielies verorber terwyl die monster verskeie mitologiese kreature kaf draf. Maar as jy ʼn fliek-entoesias is wat van aksieflieks hou, maar jou standaarde hoog stel, mag hierdie een jou irriteer en later oorbluf uit die teater laat strompel. Hoe het Ouma altyd gesê? “Te veel van ʼn goeie ding is nie goed nie.” En hierdie Godzilla, wat gedurende sy openingsnaweek byna $50-miljoen by die Amerikaanse loket verdien het, is ʼn voorbeeld.

Die menslike karakters bestaan skaars en die akteurs speel vyfde viool. Selfs Godzilla is vir ʼn lang ruk op die agtergrond. Ag nee wat.

Jou verslawing. Jou keuse.

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprenbedryf, Daar doer in die fliek, is verlede jaar uitgegee. Sy jongste romans, Sielsmokkelaar en Stralerjakkers, verskyn later vanjaar.

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae