Leon van Nierop se resensie: Godzilla vs. Kong

Godzilla vs. Kong    *
Met Alexander Skarsgård en Milly Bobby Brown
Regisseur: Adam Wingard

Indien ʼn mens ʼn fraksie van ʼn gruweltroos uit die Covid-pandemie gekry het, is dit die gedwonge uitkap van ou, vrot hout. Met die baie skraal hoop dat groot, uitspattige, leë film loketreuse sonder storie, wat op rekenaars aanmekaar geflans is om monsters as helde sal sneuwel tot uitwissing; dat beter rolprente met inhoud dieper as ʼn glas water met jou oupa se tande in op kleiner begrotings gemaak sal word (soos The Father); en dat die hamburger-sindroom in sy eie tamatiesous sal stik.

Dus: gee net vir mense hamburgers en dis al wat hulle sal begeer, soos met die DC-strokies-modegier gebeur het. En vir ʼn wyle, terwyl die ateljees hul groot uitreikings teruggehou het, het beter, soms aandoenlike of snaakse rolprente die groot skerm getref soos Breaking News in Yuba County (probeer tog hierdie maagseerlagkomedie in ʼn teater sien!) en dat dit die norm sou word.

Maar met een magtige swiep van sy geskubde stert en een heelal-skuddende gebrul het Godzilla en King Kong die rolprentbedryf met ʼn dofsware plof teruggeneuk na dieselfde eenselwige voorspelbaarheid. Grotesk-oordrewe films met multimiljard dollar/rand begrotings wat ʼn mens aan ʼn neut herinner, is terug soos onwelkome skoonfamilie net voor etenstyd. Jy kap die fliek met mening op ʼn rots oop, maar hy is binnekant leeg. Dieselfde gebeur hier. Dit is nie ʼn rolprent nie, dit is ʼn selfvertroetelende rekenaarfees omdat feitlik die hele rolprent op rekenaars vervaardig is en nie eers een hartsnaar roer nie.

Kortliks: Godzilla verloor die laaste varkie wat hy nog op hok gehad het en saai uitbundige rolprentverwoesting. King Kong word vervoer om Godzilla op sy stekelrige herrie te gee. ʼn Titaniese geveg vind plaas waar ʼn akkedis en ʼn reuse-gorilla mekaar opdons. En aanhou, en weer baklei, en nog meer baklei, ʼn hele stad met die aarde gelyk maak en ʼn derde robot-gedrewe Godzilla oproep wat sy/haar opwagting maak en die geveg ingewikkelder maak om nog ʼn paar minute se chaos daaruit te kry. Dis soos om kondensmelk oor versiersuiker te gooi. Dis die rolprent van vernietiging (die Amerikaners noem dit cinema of destruction) waar 80% van die storie uit ʼn geveg bestaan wat niemand in elk geval gaan wen nie. Spesiale effekte-bewonderaars sal hulle net verkyk aan die rekenaar-truuks, die eerste keer in ʼn jaar. Maar die storie kry ʼn duim-af-teken.

Godzilla vs. Kong is ʼn rampspoedige film. Geldmors. Net vir selfoonspelende jeukerige jonges bo 10. Alleenlik in fliekteaters of IMAX. Vermy soos ʼn maskerlose besoek aan ʼn openbare plek.

Die fliek is by Ster-Kinekor en NuMetro te sien.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mauritz ·

Regtig? wanneer ek heeldag gewerk het is ek nie lus vir ‘n soppy storie nie. Hierdie was vet pret.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.