Hampstead *** (7/10)
Met Diane Keaton, Brendan Gleeson
Regisseur: Joel Hopkins
Bewonderaars van Diane Keaton, Oscar-bekroon op haar dag vir Annie Hall, kla dikwels dat al die rolle wat sy deesdae speel, dieselfde is. Ook dat sy telkens van dieselfde speltegnieke gebruik maak, en dat sy dikwels net in ondersteunende rolle gesien word. Dié rolprent is vir hulle, want Keaton kry vir die eerste keer in jare weer die kans om te bewys hoekom sy beskou word as een van die wêreld se voorste aktrises. Sy lewer hier onopgesmukte, meer natuurlike en menslike spel as in haar onlangse stereotipe komedies.
Nie dat Hampstead eintlik ʼn volbloed komedie is nie, alhoewel daar tog ʼn ongesproke romantiese subteks betrokke is.
Dit is gebaseer op die ware verhaal van ʼn befoeterde Ierse oubaas (Brendan Gleeson) is uitstekend en registreer as mens agter die woeste baard) wat in ʼn soort boothuis langs ʼn rivier woon. ʼn Eksentrieke weduwee merk hom eendag deur haar verkyker op en raak behep met hom. Hoekom sou die ou man alleen in so ʼn pondokkie woon?
Sy besluit om ondersoek in te stel en ʼn vriendskap ontstaan wat gepeper is met gevatte sêgoed soos net ʼn slim draaiboekskrywer kan uitdink. Die karakterisering is ook beter is as waaraan ʼn mens deesdae in sulke rolprente gewoond is, met ongeaffekteerde spel.
Dit is ʼn tipiese herfsdagfilm – die soort waarna jy gaan kyk as jy op ʼn agtermiddag moeg is van TV-kyk of die familie wat ongenooid gedurende die Paasvakansie kom kuier en jy wil sommer net wegkom. Dis die soort doodgewone fliekgeskenk wat ʼn mens aan jouself gee as jy nie te veel uitgedaag wil word deur ʼn woeste rekenaarspeletjiefliek nie, of lus is vir seks en geweld nie.
Menslik, snaaks en vrolik.
Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.