Leon van Nierop se resensie: How to Train Your Dragon: The Hidden World

How to Train Your Dragon: The Hidden World **** (7/10)
Met die stemme van Kit Harrington en Jay Baruchel
Regisseur: Dean DeBlois

Wanneer het jy laas saam met jou kinders deur die lug gevlieg op die rûens van drake sonder tande? Drie jaar gelede dalk in die tweede How to Train Your Dragon? En toe het jou hare al penorent gestaan van uitbundige plesier. Wel, nadat jy hierdie drake-kaperjolle gesien het, sal jou vermaak-kliere dalk ook ʼn stewige adrenalien-inspuiting kry. Want al wat die fliek probeer doen, is om jou saam met jou kinders te vermaak terwyl dit ʼn sedelessie leer: Kry ʼn troeteldier! Dis jou goeie reg, maar onthou net dat die diertjie ook kan grootword. En wat gebeur dan?

ʼn Mens gaan kyk nie eintlik na die derde Dragon-fliek vir die storie nie, want soos gewoonlik is daar nare despote wat die ondiertjie wil vang en vernietig. Onthou, die aarde moet van drake gesuiwer word, a nee a! Probeer bietjie vooruit voorspel wat hier gaan gebeur! Jip! Jy is reg. Die drake vlug na ʼn weggesteekte wêreld wat as ʼn soort drakehemel beskryf kan word en waar hulle in vrede kan vlieg, maar wat net tot sy reg kom in IMAX-teaters.

Verwag dus dat die kleingoed gaan neul vir 3D-brille én IMAX. Dit sal ʼn heerlike naweekgeskenk wees. En dan is daar die bekkige karakters: Vikings wat mekaar beledig, skurke wat smalende aanmerkings maak en drakies wat kompleet nes ʼn kat spin wanneer hulle verlief raak, of nie brul nie.

Die derde How to Train Your Dragon is vet pret met ʼn storie wat die kleinspan darem behoort te boei. Pa en Ma sal gou deur die storietegnieke sien. Maar so vroeg in Februarie, wanneer almal weer begin stoom opbou vir die Nuwejaar, behoort dit goed met Coke en springmielies af te gaan!

Die fliek vertoon tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.