Leon van Nierop se resensie: I Feel Pretty

I Feel Pretty *** (7/10)
Met Amy Schumer en Michelle Williams
Regisseurs: Abby Kohn en Marc Silverstein

Dit wys jou net. Jy moet nooit bevooroordeeld gaan fliek nie. Amy Schumer het ongelukkig onlangs nie eintlik rolprente gemaak wat ʼn mens regop laat sit van plesier of staande applous laat gee nie. Dink aan Trainwreck (ʼn treinramp van ʼn komedie!) en die lomp Snatch. Maar dalk het sy uit haar foute geleer met haar jongste rolprent, of miskien het iemand haar in die bek geruk. Of dalk het sy self in die gehoor gesit en gekyk hoe mense reageer (of nie reageer nie!) op haar komedies.

In hierdie onwaarskynlike, maar baie wáár sprokie, is Reneé Bennett ʼn doodgewone meisie wat selfbewus is omdat sy nie tydskrif-mooi is nie. Sy vergeet wat Shakespeare gesê het: “Beauty is in the eye of the beholder”. Hierdie komedie help die “lelike” eendjie om in ʼn swaan te verander, maar omdat sy haar houding verander ná ʼn stamp teen die kop, dink sy nou sy is mooi. In die proses ontbloot sy die swaan wat nog altyd daar weggekruip het, en skielik neem mense kennis van haar. Begin sy lewe.

Hier en daar is daar slapstick met ʼn ligte vulgariteit. Maar oor die algemeen gee hierdie jolige komedie vir alle meisies weer moed wat ʼn probleem met hul eie selfbeeld het en van die lewe probeer wegkruip.

Jy is so mooi soos jy voel. En Rory Scovel wat op haar verlief raak is die toonbeeld van ʼn doodgewone, goedhartige ou wat van die meisie agter die neurose hou, nie die uiterlike grimering en ander toebehore nie!

Aanbeveel.

I Feel Pretty wys nou by Ster-Kinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.