Leon van Nierop se resensie: Inside Bill’s Brain

Inside Bill’s Brain: Decoding Bill Gates    ****

Ons hoor net altyd in bewonderingstaal van hom, en met sy breëlê-kuif en bril is hy die toonbeeld van ʼn bleeksiel. Maar ʼn geniale bleeksiel wat sy biljoene aanwend om mense te help en van die wêreld ʼn beter plek te maak.

Hierdie gemaklike dokumentêr, wat nie op aandag staan en Gates salueer nie, probeer by die mens uitkom. Wil agterkom wat Gates laat tiek. En daarin slaag die dokkie nogal, alhoewel dit toewyding vereis. Met ander woorde, jy sal dit nie direk ná Chris Hemsworth se biseps-ballade kyk nie. Jy moet eintlik in die bui daarvoor wees.

Hierdie dokumentêr probeer verduidelik wie hierdie onpeilbare slim man werklik is. Maar niemand sal dit ooit kan verklaar nie. Hy is ʼn diep seun en jy raak nooit die bodem as kyker nie. Feit is: hy is geweldig puntenerig en het dikwels met sy ouers gebots toe hy nog op skool was, want niemand het hom verstaan nie. Hy het sy eie kop gevolg, en ons kry nou insae in sy brein-aktiwiteite. Maar kry ook respek vir die gewone mens wat muurbal speel en van honde hou en al jare lank met dieselfde vrou getroud is en homself hoegenaamd nie te ernstig opneem nie.

Hy is die nuwe Einstein, en die wêreld betreur dit eintlik dat daar nie nog meer sulke mense, veral in regerings is nie!

Bemoedigend, interessant, boeiend en openbarend. Dalk weet jy hierna bietjie meer van die genie wat probeer om die wêreld ten goede te verander, een dag en een goeie daad op ʼn slag. Op Netflix.

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Ian

Leon my ou bul, as jy dink jou resensie gaan ons siening oor hierdie man verander misgis jy jou deeglik met die algemene publiek se intellek. Gates se uitsprake en dade wys ‘n totaal ander pentjie. Om hom met Einstein te vergelyk is belaglik tot die mag tien.