Leon van Nierop se resensie: Joker

Joker *****
Met Joaquin Phoenix en Robert de Niro
Regisseur: Todd Phillips

WAARSKUWING: DIE ROLPRENT BEVAT ERGE TONELE VAN ANARGIE, GEWELD EN SIELKUNDIGE AFWYKINGS WAT MENSE ERG GAAN ONTSTEL.

Die wêreld is in ʼn gruwelike gemors soos die huidige Oekraïne-skandaal in Amerika, Brexit en ons eie land, wat op die rand van chaos huiwer, bewys. Suid-Afrika sal veral aanklank vind by die buitensporige misdaadtonele in hierdie rolprent.

Joker skakel hierby in soos in ʼn muurprop wat lank lê en wag het op ʼn stroomlading en vonk, en voed uit hierdie negatiewe energie. Dit beklem en vermoei jou, lei jou op ʼn hellevaart na die diep-donkerste hoekies van die psige en ondersoek die sielkundige afwykings van verlore siele wat deur die samelewing verwerp is. Hulle kom nou in opstand in tonele van erge anargie en neem wraak op kapitalistiese geldreuse wat hulle uitbuit en mishandel asook misken en bespot.

Joaquin Phoenix, wat 24 kilogram vir die rol verloor het, lewer ʼn instinktiewe en verbluffende geniale vertolking as Joker, soos nog nooit op die silwerdoek gesien is nie. Hy is ʼn langderm van ʼn verloorder, ʼn nar wie se narregrimering vanself begin huil en smeer wanneer hy soos ʼn besete gomlastiekmannetjie sy lang, seningrige arms in allerlei kontorsies wriemel en dans nadat hy gemoor het.

Hierdie grieselsiel sal jou ergste nagmerries vir weke lank besit.

Die hoë stergradering word gegee op grond van die uitmuntende rolprent-tegnieke wat gebruik word. Geen spesiale effekte, geen groenskerms, net meesterlike, weldeurdagte regie, uitmergelende musiek, kunsregie wat die hel naboots (Gotham/New York in die Tagtigs) en fenomenale spel. Dit is film in sy suiwerste, maar ook gevaarlikste vorm. Want dit kan die monsters wat in die onderbewussyn lê gewelddadig laat opstaan.

Eksplosief en geniaal, maar uiters ontstellend. Pasop!

Die fliek wys tans by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lizl ·

Wel, Leon, jou wonderlike spel van woorde maak dat ek beslis die fliek wil kyk, nog voor ek `n voorspel gesien het!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.