Leon van Nierop se resensie: Juliet, Naked

Juliet, Naked     **** (8/10)   
Met Rose Byrne, Ethan Hawk en Chris O’Dowd.
Regisseur: Jesse Peretz

Die pragtige en hoogs oorspronklike rolprent se titel is misleidend, want dit sinspeel op seks en naaktheid, en daarvan is geen sprake in die rolprent nie. Juliet, Naked is die naam van ʼn liedjie wat ʼn voormalige popster, uitstekend gespeel deur Ethan Hawke, geskryf het.

ʼn Bleeksiel-meisie (die briljante Rose Byrne wat genuanseerde spel lewer) hoor dat haar vervelige kêrel, Chris O’Dowd) ’n resensie daaroor op sosiale media geskryf het en ʼn obsessie met die eksentrieke sanger, gespeel deur Ethan Hawke, het. Sosiale media speel dan ʼn groot rol in hoe die meisie en die popster ontmoet, en die vurige chaotiese gevolge van daardie ontmoeting.

Soms ontmoet die regte mense mekaar te laat, en dit deur ʼn liedjie!

ʼn Mens lag soms met ʼn traan, maar die storie dra heeltemal te veel gewig en is te ernstig om as ʼn “romantiese komedie” afgemaak te word. Dit gaan oor ware liefde wat per ongeluk ontdek word, en hoe misverstande en ʼn chaotiese bestaan hierdie liefde in die wiele kan ry.

Die dialoog is so spitsvondig, jy wil dit neerskryf. Die driehoeksverhouding wat ontstaan is lewegewend slim en oorspronklik, en die plek waar dit afspeel (ʼn klein dorpie in Engeland) dien ook as karakter. Maar teenoorgesteldes trek mekaar aan en dit is wat die rolprent vier teen ʼn hoofsaaklik plattelandse agtergrond.

As jy moeg is van voorspelbare liefdesverhale en geykte rolprente, is hierdie die beste voortydige Kerspresent wat jy aan jouself kan gee. Gaan geniet jou gate uit! Dis ʼn reuseverrassing en baie beter as wat hierdie resensie, of plakkate, kan beloof.

Die fliek vertoon tans by SterKinekor 

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.