Leon van Nierop se resensie: Jurassic World: Fallen Kingdom

Jurassic World: Fallen Kingdom **     (5/10)
Met Chris Pratt en Bryce Dallas Howard
Regisseur: J A. Bayona

Ons is deesdae, veral ná die twee vulkane wat ons daagliks op televisie sien oorloop, meer vulkaan-geletterd as tevore. Juis daarom sien ʼn mens vinniger deur hierdie draaiboek as wat ouers deur ʼn tiener se verskoning sien oor hoekom hy of sy gisteraand so laat tuisgekom het.

In hierdie, die vyfde (onnodige!) rolprent in die reeks, ontplof ʼn vulkaan op die eiland waar die dinosourusse leef. Die besorgde eienaar wil keer dat die diere ʼn tweede keer deur vuur uitgewis word, en beplan ʼn soort dinosourus-ark om hulle te red. Maar natuurlik steek daar meer agter die reddingspoging as om die oerdiere weer van uitwissing te red. Geld praat harder as die wetenskap!

Die res van die storie kan ʼn mens byna uit jou kop opsê. Chris Pratt as die held Owen, wat laas geleer het om sekere dino’s te tem, nes honde, en Bryce Dallas Howard, word aangekeer om die operasie redding van die oerdiere te bestuur. Maar hoeveel oopgesperde oerdier-kake kan een mens oorleef? Hoeveel vuurballe kan hulle ontwyk? Hoeveel keer kan hulle vinniger as die viervoetiges hardloop?

Weg is die betowering van die heel eerste Jurassic Park toe ons nie kon glo wat ons sien nie. Hierna was alles op die silwerdoek moontlik. Dié slag is die reeks net een stuk dramatiese aksie sonder enige karakterisering, en hier verwys ʼn mens spesifiek na die dinosourusse. Hulle was interessanter as enige mens in die vorige Jurassics. Nou is hulle net vleisetende masjiene wat op rekenaars geskep is.

As jy nog nooit ʼn Jurassic Park of Jurassic World gesien het nie, mag dit twee ure interessant laat verloop. Maar hierdie oerdier het regtig nou sy byt verloor!

Jurassic World: Fallen Kingdom wys nou by SterKinekor en NuMetro

Leon van Nierop resenseer weekliks rolprente soos hierdie een op kamera wat op sy Facebook-blad. Besoek ook sy blad vir resensies oor rolprente met lokprente en interessante feite.

Leon van Nierop

Meer oor die skrywer: Leon van Nierop

Leon van Nierop is ’n bekende radiopersoonlikheid, rolprentresensent, vryskutjoernalis, stemkunstenaar, skrywer van romans, radio- en TV-vervolgverhale soos Wolwedans in die skemer en Ballade vir ’n enkeling asook die draaiboeke van die rolprente geskoei op hierdie twee verhale. Hy was vier jaar lank hoof van die Rolprentakademie van die Tshwane-Universiteit van Tegnologie en tree dikwels as dosent en spreker oor rolprente op. Sy boek oor die geskiedenis van die Afrikaanse rolprenbedryf, Daar doer in die fliek, is verlede jaar uitgegee. Sy jongste romans, Sielsmokkelaar en Stralerjakkers, verskyn later vanjaar.

Deel van: Flieks

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Een kommentaar

Paul ·

Die hoofrede hoekom die jongste Jurassic Park flieks nie meer boeiend is nie, is omdat die uitsluitlike gebruik van rekenaaranimasie en die wegdoen met fisiese effekte, beteken dat reggiseurs te veel “onmoontlike” dinge met die kamera doen. Daar is nie meer rede om die kamera op ‘n “menslike” oogpunt te plaas nie, want hele tonele word met rekenaaranimasie geskep en dan kan die virtuele “kamera” enige plek wees en enige maneuvers uitvoer. Kyk maar in daardie lokprent hoe die kamera in die aksietonele dikwels uit totaal onmoontlike oogpunte skiet. Dit veroorsaak dat die gehoor die gevoel dat jy self daar is, verloor. Daarmee saam word die gevoel van spanning en angs verloor.
Nie alle regisseurs doen dit nie, maar meeste val deesdae in daardie lokval met aksieflieks. Die vorige Jurassic World het definitief in daardie strik getrap. Help ook nie dat die draaiboek papierdun was nie…

Verder lyk rekenaaranimasie steeds minder “werklik” as ‘n werklike marionet of robot wat op die stel is. Dis soos die oorspronklike Yoda-pop in Star Wars wat met ‘n rekenaaranimasiemodel vervang is wat meer “realisties” lyk, maar onmiddellik minder “werklik”, want die gehoor besef dadelik dis nie regtig daar nie, anders as met die pop.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.